Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”)
is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur
middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.
Elke familie het stories om te vertel! Jy het dalk as kind na van hierdie stories geluister. Dit kan insluit: stories oor denkbeeldige of mitiese karakters wat van generasie na generasie oorgedra word, stories oor skelmstreke of dapperheid, of stories wat ons van die waardes van deursettingsvermoë of vergifnis leer.
Maar daar is ook ander familiestories. Dit is die stories van die alledaagse ervarings van lede van jou familie, nou en in die verlede. Dis die stories wat ons vertel wanneer ons kinders vir ons sê: “Mamma, vertel vir my ’n storie van toe jy klein was.” Of dit is die stories wat ons tydens aandete vertel oor wat vanoggend met ons gebeur het toe ons probeer het om ’n graankosboks op die boonste rak by te kom. Wanneer ons hierdie stories oor ons alledaagse lewens deel, bou ons bande met ons kinders – ons laat hulle toe om meer van ons te weet.
Maar, wanneer hulle na ons stories luister, help dit kinders ook om te leer hoe stories werk. Hulle leer byvoorbeeld dat stories ’n begin, middel en einde het, en dat die gebeure in ’n storie help om dit na ’n klimaks te laat opbou, wat die opwindendste deel van die storie is. Om te weet hoe stories werk, help kinders wanneer hulle stories in boeke lees en hulle eie stories skryf!
Terwyl ons praat oor wat vandag of lank gelede met ons gebeur het, deel ons dikwels hoe ons op daardie tydstip gevoel het, byvoorbeeld: “Dit was regtig baie, baie donker, en ons was so bang, maar ons het bly aanstap na die badkamer, want ons wou uitvind waar die geraas vandaan kom.” Wanneer ons praat oor hoe ons in ’n situasie gevoel het, gee ons ons kinders die taal om oor hulle eie gevoelens te praat. Om te kan uitdruk hoe jy voel, is iets wat kinders help om selfvertroue te ontwikkel.
Stories oor regte of denkbeeldige mense buite ons families help kinders om met die wyer wêreld kontak te maak. Die stories van ons families is so uniek soos die mense in ons familie! Hulle is deel van elke familie se geskiedenis en hulle help kinders om te weet waar hulle vandaan kom en wie hulle is.
Gaan na www.nalibali.org en www.nalibali.mobi vir meer inligting en wenke oor die vertel van stories!
