’n Storie van plekname

Poem Mooney skryf oor die name van die berge, riviere, fonteine, streke en poorte in ons streek wat hul wortels het in die inheemse tale van die Khoi-Khoi en San.

Die inheemse tale van die Khoi-Khoi en San (of soos die mense voorheen gepraat het, Hottentotte en Boesmans) word vandag nog in die name van die berge, riviere, fonteine, streke, poorte en snaakse koppies gereflekteer.

Daar is soveel mooi bakens in die omgewing van Prins Albert wat kan dien as stawende bewyse dat die inheemse inwoners sterk verteenwoordig was in die Swartberge, op die uitge­strekte vlaktes van die Karoo, in berg­klowe, die streke rondom fonteine en die misterieuse watergate naby en in die groot riviere in en om ons pragtige dorp.

Die Traka (Tarka) lei Pettman af van Tarras, “ ’n vrou” en !ab ’n “rivier”. Die eerste is ’n tak van die Olifantsrivier (distrik Prins Albert) en die laaste tak van die groot Visrivier, maar albei na­me het dieselfde oorsprong en betekenis.

In goewerneur Plettenberg se Dagverhaal van die landreyse … in den jaar 1778 gedaan, word op 18 September melding gemaak van die Traka of Vrouensrivier. In Sir William Butler se joernaal (1752) word verwys na een rivier Tarka of het “Vrouenrivier”, terwyl Sir John Barrow in sy Travels to the Interior of Southern Africa (1806, bl 52) praat van die Traka of “Maiden River”. Na die Tarkarivier is ook Tarkastad en die distrik Tarka vernoem.

In die Groot Karoo op pad Beaufort-Wes toe is die plaas Trakaskuile – die kuil van die vroue. Watter pragtige stories oor die eerste inheemse mense lê nie hier begrawe nie stories oor watervroue, ons inheemse waterfamilies.

En die stories van die aap (in die volksmond) by Klaarstroom, word daar nie bloot net na die rivier verwys nie.
“!ab” in die inheemse taal van Khoi-Khoi en San, beteken “rivier”. In daar­die omgewimg is die pragtigste stories in omloop oor die fonteinslang.

Ek het die een storie by my ma en haar suster, ant Katrina Lewis, gehoor. Hulle het gereeld houtveld toe gestap om hout te maak. Die beste hout was in die omgewing van die rivier met sy besonderse naam, !ab.

Hulle het die gewoonte gehad om ’n wit klippie of enige spoelklippie uit die rivier onder die oksel van die linker­- skouer vas te knyp. As jy oor die rivier geloop het, moes jy die klippie met jou regterhand verwyder en dit moes jy dan in die rivier gooi. Al die kinders in die bondel het hierdie oeroue gewoonte getrou nagevolg – en daar was nooit probleme nie.
Een middag het die twee vergeet om dit te doen – tot hul grootste spyt.

Ewe skielik het die weer opgesteek. Dik, dreigende donderwolke het saam­gepak. Die wolke het begin maal en die volgende oomblik het verblindende weerligstrale op die rivier begin slaan. Dit was asof dit wriemel en woel op die wateroppervlak. Daar was herhaaldelik sweepslae op die water, skuimvlokke het links en regs gespat.

Dit was toe dat die verbouereerde kinders onthou van die natgeswete klippies onder hul oksels. Hulle het dit in die water gegooi. Oombliklik het die onweer bedaar, die reën het opgehou en die wolke het oopgetrek. Die water het kalm geword en daar was ’n besonderse kalmte wat oor die veld gehang het. En ewe skielik het die son helder deur die wolke gebreek.

Die taal kan ook gelees word in die name van riviere soos die Traka, die Gamka en die Dwyka; asook in die streke en die poorte soos die Koup, Gamkaspoort en Gamkaskloof. Die naam Kango is waarskynlik ’n vervorming van twee Hottentotwoorde, !a-!Kanub, wat “vlakte tussen heuwels” beteken.

Die Hottentotte het oor die Karoo geswerf. Dié streek het die Hollandse koloniste die Droogeveld genoem. Karoo is egter ’n Hottentotwoord wat “droë plek” beteken.

Van die woord “Kauka” word melding gemaak in die joernaal van Van Plettenberg (1778) en die woord be­te­ken “Buffelsrivier”.

Dit is ’n sytak van die Trakarivier in die distrikte Prins Albert en Willowmore. Kauka is afgelei van /goab (buffel) en !ab (rivier).
Koup is die vervorming van die woord “houb” wat “pensvet” beteken. (Die vervorminge is Gouph, Coup, Choup, Koup.)

Die Khoi-Khoi het ook aan spesifieke diere name gegee. So is die maanhaarjakkals gheip of ghaip genoem. Daar is veldkosse soos ghaap, veldplante (vrugte) soos ghoena en die hottentotsvye wat ghokum genoem is; ghwarrrieko – kambro.

Daar is die primitiewe inheemse musiekinstrumente soos die ghoera.

Geneeskundige plante soos ghwar­-rie­tee, ’n aftreksel van ghwarrieblare, is vir hartkwale gebruik.

Behalwe die nagelate woorde uit van ons inheemse Khoi-Khoi- en Santale, is daar nog ’n massiewe skat van nalatenskappe wat oor die Suid-Afrikaanse landskap versprei lê.