Skaalmodelle in aksie

Foto: Ebenezer Titus

Foto: Schalk le Roux

Deur Angelique Erasmus
DIE 49ste skaalmodel-vliegtuigskou wat van Donderdag tot Maandag op die Oudtshoorn Lughawe aangebied is, was ’n groot sukses, sê Jaco Erasmus, voorsitter van die Kango Vliegklub wat die skou aangebied het.
“Die model-vlieëniers het dit terdeë geniet en was vol lof vir die reëlings. Ons is trots op die goeie terugvoer wat ons vanaf die deelnemers en publiek ontvang het.”
Die model-vliegtuigies het vanjaar 407 vlugte onderneem. Daar was 72 deelnemers met 168 modelvliegtuie, insluitende ’n paar straalvliegtuie.
Meer as 1 000 besoekers het die lugskou besoek.
’n Binnenshuise vlieggeleentheid Vrydagaand by die De Jager Sportkompleks het gesorg vir groot vermaak.
Heliumgevulde ballonne is op verskillende plekke en hoogtes in die saal geplaas. Om ’n prys te wen moes vlieëniers met elektriese sponsvliegtuie teen die balonne vasvlieg en dit laat bars.
Matthew Going (15) van Kaapstad het die ouer manne ’n ding of twee gewys deur die meeste ballonne te laat bars.
Erasmus het die borge asook almal wat hard gewerk en bygedra het tot die sukses van die lugskou bedank. “Ons sien uit volgende jaar se 50ste skaalmodelvliegtuigskou op Oudtshoorn!”

Alle vlugte het nie goed geëindig nie.