Elias Olivier en die rooi pampoenvelskoene

Elias Olivier in sy huis in Millenniumpark.  Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
VAN arm plaaskind in Sutherland tot diplomaat in ambassades in Rome en Canberra. Dit is die lewensverhaal van Elias Olivier, deur homself geskryf, wat die lewe van ’n Afrikanerseun oor 85 jaar uitbeeld.

Olivier is ’n inwoner van Millenniumpark op Oudtshoorn waar hy hom beywer het vir die totstandkoming van Die Koffiepot en nou ook vir ’n moontlike oprigting van ’n lapa.

Dié outobiografie, Met rooi pampoenvelskoene, begin met Olivier se grootwordjare in Sutherland en gee vir die leser ’n kykie in die skrywer se lewensreis deur ’n gelukkige huwelik van byna 60 jaar met sy vrou, Marianne, sy diensjare in die di­plo­matieke diens in Italië en Australië, botsings met kerkleiers en politici en eindig met ’n soeke na geluk in ’n tweede huwelik na Marianne se dood.

Olivier skryf dat sy lewenspad deur genade oor groot hoogtes maar ook deur diepdonker leegtes gekronkel het. Deur dit alles was hy “met rooi pam­poenvelskoene geanker op die grond van Afrika waarvoor ek hartstogtelik lief is.”

Olivier verwys graag na homself as ’n Afrika­nerseun en begrippe soos Afrikaner, Afrikanervolk en selfbeskikking, kom telkens na vore. As diep gelowige mens, skroom hy nie om te bely dat sy hart warm klop vir sy mense, sy volk en God nie.

Toe hy in botsing gekom het met leiers van die NG Kerk het hy uit dié kerk bedank en ’n nuwe tuis­te in die Evangelies Gereformeerde Kerk ge­vind. Hy het selfs met die eertydse eerste minister, John Vorster, ’n gesprek gehad waarin hy hom meedeel dat hy as diplomaat in die buiteland nie meer die apartheidsbeleid, veral ten opsigte van die tuislande, in die buiteland kan verdedig nie. Hy het later dan ook uit die Nasionale Party bedank en lid van die Verenigde Party (VP) geword.

In 1974 het hy as VP-kandidaat tydens die alge­mene verkiesing vir Vorster in sy kiesafdeling, Nigel, uitgedaag. Dit is volgens Olivier by hierdie verkiesing dat Vorster hom toegesnou het: “Go and play marbles, young man.”

Na Marianne se dood in 2016, het hy sy jeugliefde, Minnie, in Paleisheuwel naby Piketberg opgesoek met die ou liefde wat vinnig weer opgevlam het. ’n Haastige troue volg in 2017 met ’n wittebrood in Mauritius. Die geluk was helaas van korte duur en die huwelik het weens persoonlikheids­verskille ontbind. Olivier reken dit is omdat twee harde meulstene nie goed maal nie.

Hy kom aan die einde van sy verhaal tot die ge­volgtrekking dat hy sy lewensreis met die rooi velskoene geloop het. “Later in ander gewaad van diksool en blinkleer, maar binne was die draer nog altyd die plaaskind van Sutherland.”