Oud en nuut. St Johnstraat van ouds (bo) en St Johnstraat vandag (onder). Historiese foto verskaf deur CP Nel Museum.

ST JOHNSTRAAT op Oudtshoorn is deesdae een van die gesogste besigheidstrate in die dorp met talle ou woonhuise wat deesdae besighede huisves.
Die straat loop dood teen Parkweg aan die weste en Hugenotestraat aan die ooste – op een van die hoogste punte in die dorp met ’n pragtige uitsig oor Oudtshoorn. Die straat se besigheidsentrum strek ongeveer vanaf die brug oor die Grobbelaarsrivier tot by St Georgesstraat en huisves ook talle woon- en gastehuise, die Oudtshoorn Rolbalklub, en grens aan ’n sportveld van die Hoërskool Oudtshoorn en die De Jager Sportstadion.
St Johnstraat het in die 1800’s bekend gestaan as Chapelstraat en was veel korter as vandag. Dit is eers in 1890 tot in Wesbank verleng.
Een van die legendariese geboue in die straat in die ou dae was die Imperial Hotel. Dit was geleë waar Shoprite nou staan en drie verdiepings hoog. Op die perseel was eers ’n losieshuis wat in 1896 afgebrand het en herbou is. In 1910 is dit herbou tot die deftige en indukwekkende Imperial Hotel. In die 1970’s het dit egter een van talle historiese geboue in die dorp geword wat gesloop is.
Nog ’n slagoffer van sloping was die pragtige Independente Kerk wat in 1849 op die hoek by Baron van Reedestraat gebou is. Dit is in Desember 1971 as gevolg van die Groepsgebiedewet gesluit en later gesloop.
Ook ’n tweede Joodse sinagoge in die straat is gesloop. Die Kelme Jode, wat hulle in 1896 op Oudtshoorn gevestig het, het besluit het om ’n meer ortodokse sinagoge te bou in dieselfde styl as hul tuisdorp se sinagoge. Dit het bekend gestaan as die “Griener Shul”.
Dié gemeenskap het egter in 1973 ontbind nadat baie Jode die dorp verlaat het. Daar is besluit om die inhoud – insluitend die Heilige Ark wat soos die ark in die sinagoge in Kelme gemodelleer is – na die CP Nel Museum te verskuif. ’n Replika van die sinagoge met sy inhoud is steeds in die museum te sien.