Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.
Dikwels, wanneer mense praat oor hoe belangrik dit is om vir kinders te lees, bedoel hulle kinders wat drie jaar of ouer is – sommige mense bedoel selfs kinders ouer as vyf! Maar meer en meer navorsing toon dat dit beter is om van geboorte af vir kinders te begin lees.
Dokters oor die wêreld heen gee dieselfde raad aan nuwe ouers: begin onmiddellik vir jou baba lees en hou aan om vir hom of haar te lees. Waarom? Omdat ons weet dat kinders se breine die meeste ontwikkel vanaf twee weke na bevrugting totdat die baba drie maande oud is. Onlangse navorsing dui ook daarop dat wanneer ons vir kinders wat jonger as drie is, lees, dit hulle help om belangrike mylpale in breinontwikkeling te bereik. Trouens, hoe langer jy dit los om jou kinders aan boeke be-kend te stel, hoe moeiliker is dit vir hulle om die vaardighede vir geletterdheid te ontwikkel wat hulle nodig het om sukses in die skool te behaal.
Wanneer babas nog nie baie woorde verstaan nie, kan hulle woordeskat en taal aanleer wanneer jy prenteboeke, rympieboeke en eenvoudige stories met hulle deel – en dit sit hulle breine aan die dink! Dit is ook ’n wonderlike manier om te ontspan en ’n band met jou baba te vorm.
Namate babas groei en hoe meer jy hardop vir hulle lees en met hulle praat, hoe meer woorde hoor hulle, en baie gou sal jy hulle self die woorde hoor gebruik! Hulle sal ook uitvind hoe die gedrukte woorde betekenis het en hoe ons stories vertel. Maar die belangrikste is dat wanneer ouers en versorgers dikwels vir baie jong kinders lees, dan sal hierdie jongelinge grootword om lees te sien as iets wat genotvol en die moeite werd is. Hulle is dus meer geneig om in hulle vrye tyd te lees wanneer hulle ouer is. Dit is belangrik, want hoe meer kinders lees, hoe beter lees hulle … en hoe meer plesier hulle uit lees kry, hoe meer geneig is hulle om te lees!
Hierdie is almal wonderlike redes om die dokters se raad te volg: lees gereeld stories vir babas en kinders en hou aan om vir hulle boeke te gee!
• Hierdie artikel is beskikbaar gestel deur die Nal’ibali-lees-vir-plesier-program.
Vir meer wenke oor lees, leesaktiwiteite of stories om saam met jou kinders te geniet in ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse tale, besoek: www. nalibali.org en www.nalibli.mobi, of vind dit op Facebook en Twitter: @nalibaliSA. Nal’ibali ondersteun die Oudtshoorn Lighuis-leesklub. Maak kontak met hulle by https://www.facebook.com/ OudtshoornLighuis/
