Kan nie glo wat ek sien nie! Ek is op pad vanaf die Oudtshoorn Gholfklub huis toe op Donderdag 20 Julie net na 14:30. By die aansluiting in St Saviourstraat kom ’n begrafnisstoet verby – sowat 10 voertuie agter ’n lykswa. Ry ’n munisipale vragmotor met boomtakke en ’n ander by ’n bakkie die stoet verby op ’n sperstreep. Geen respek vir die stoet of enige padteken nie. Wat is besig om in ons dorp te gebeur? Wat dink die bestuurders van die stoet met vreemde registrasienommers van ons inwoners? Ek is geleer dat as ’n stoet verbygaan, hou jy stil. As jy loop, staan stil, en haal jou hoofbedekking af as jy een op het. Johan
*****
Baie dankie aan die munisipaliteit se parke-afdeling dat julle reageer het om die oorgroeide boomtakke te snoei wat die straat vir so lank ontsier het en voetgangers in die straat ingedwing het. Dis bemoedigend dat daar weer omgesien word na estetika van ons dorp! Alet Coetzee
*****
Met die uitbreiding van die dorp ooswaarts het die voeteverkeer vanuit Riemvasmaak en ander buurtes uit die ooste na en van die dorp en skole drasties vermeerder. Die meeste gebruik Vyfde Laan. Wanneer gaan die munisipaliteit dit oorweeg om ’n behoorlike sypaadjie of voetweg vir die honderde mense en leerders langs Vyfde Laan aan te bring? Moet een voetganger eers raakgery word? Asseblief, munisipaliteit – die voetgangers se veiligheid is op die spel. Colin
*****
Ek is so dankbaar dat die rivier weer skoon is. Dankie aan almal wat so hard gewerk het.
*****
Ai, dit is altyd so lekker om Tania Smit se kolommetjie te lees! Dit raak aan jou hart! Ouma Plaas
*****

Wil deel met mense wat nie gereeld by dié SAPD-aanklagkantoor kom nie.
Vreemde gebeurtenisse in Oudtshoorn. Warm somermaande, damvlakke hoog. Nou skielik 43%. Nou moet ons voorberei wees vir water-prysverhogings. Lek die dam, miskien?
*****
As u ooit vir u motor ’n koppelaarstel (clutch kit) koop en vir iemand gee om dit vir u in u motor te sit, moet nooit die verpakking saam gee nie. Anders kan u koppelaar nog steeds gly en u vind uit dat u koppelaar vir R200 verkoop is. Die drukplaat (pressure plate) is nooit vervang nie. Stef
*****
Ek merk op poste vir nuwe assistente by die munisipaliteit word geadverteer. Wonder waar die geld vandaan kom? As jy inskakel, is dit sonder sukses. Amptenare nooit beskikbaar. Skakel in oor slegte paaie, dan hoor jy daar is nie geld nie. Die DA gaan ook uit die bus val. Die mense praat nou al onder mekaar. Wat van die belofte oor sypaadjie-bewoners wat sou geskuif word en steeds op die sypaadjie oorkant die Burgersentrum kamp? Belastingbetaler.