‘En nou is Neelsie sommer weggeneem’
Die Neelsie Teater is nou verlore vir liefhebbers van teater en musiek in Oudtshoorn.
Ek is verlede Vrydag ingelig dat die teater omskep word in kantore vir Kunste Onbeperk.
Die teater se meubels is verwyder, daar is volvloermatte oor die pragtige houtvloer gelê, daar is ’n klomp kragproppe in die vertrek aangelê vir rekenaars, die Musiekvereniging se klavier is uitgeskuif tot onder die trap, en die plek lyk onpersoonlik en koud. Dit is glo weens ’n tekort aan fondse nou aan Kunste Onbeperk beskikbaar gestel.
Wat het geword van die ooreenkoms dat Kunste Onbeperk konserte namens die Oudtshoorn Musiekvereniging daar sou reël? Daar het net mooi niks van gekom nie. Liefhebbers van teater en musiek het regtig gehoop dat Kunste Onbeperk die belange van die Musiekvereniging op die hart sou dra. Nou het ons ’n baie besonderse en intieme teater met wonderlike akoestiek verloor.
Hoekom is die inwoners van Oudtshoorn nie ingelig nie? Ons het nie kennis daarvan gedra dat Arbeidsgenot en die Neelsie finansieel sukkel nie. Daar kon ’n “Vriende van die Neelsie”-groep gestig gewees het.
Daar is nie ’n tekort aan kunstenaars wat wil optree nie. Die Endler-konsertreeks in Stellenbosch is vol wonderlike produksies, met verskeie oor- sese kunstenaars. Maar iemand moet die moeite doen om kontak te bou en kunstenaars te nooi.
Dit is presies die funksie wat Kunste Onbeperk behoort te vervul het volgens die ooreenkoms destyds toe Brett Pyper nog in beheer was. Hulle moet nie nou kom en sê ons het die Klein Karoo Klassique en ons moet daarmee tevrede wees nie. Wat van die res van die jaar? Oudtshoorn het ’n beter kans om mense na konserte te lok as Prins Albert wat meer geïsoleerd is. Kyk net hoe fantasties Klein Karoo Klassique bygewoon word.
Ons sal nooit die wonderlike verto-ning van die oorsese tjellis- en pianis-duo Jerome Ducas en Jerome Pernod vergeet nie.
Die saaltjie was stampvol! Na die konsert wou niemand huis toe gaan nie. Ek onthou daar was oorsese besoekers wat nie uitgepraat kon raak het oor wat ’n fantastiese ervaring dit was nie. Hulle het die middag met fietse gaan ry in ons pragtige omgewing en ’n uur of wat later kon hulle so ’n wêreldklas-opvoering bywoon! Wat ’n wonderlike voorreg!
En nou is dit sommer eensklaps van ons weggeneem.
Sonder om enigsins met die mense van Oudtshoorn te praat.
– AnneLise Schutte-Vlok, Oudtshoorn
Boek open deur
Oor die boek wat wil genees (Die Hoorn, bl 3, 20 Julie 2017): Die boek maak inderwaarheid die deur oop na genesing wat deel is van heelwording en wat nie moontlik is sonder heiligwording nie. Die een kan tog nie sonder die ander nie. Ek glo dit is ons roe- ping en ons funksie hier op aarde.
Uit innerlike vrede
– Johannes die 2de (skrywer)

Een van Higgo Jacobs se foto’s wat hy die naweek waaroor hy skryf by Ladismith se gholfbaan met Towerkop agter geneem het.
Bestuur asb ons mooi land beter
Dit gebeur in die laaste tyd baie met my wanneer ek deur ’n mooi deel van ons land ry of sommer net van die skoonheid van die natuur rondom ons bewus word, dat daar by my ’n versugting opkom: Kan ons mooi land nie groot asseblief net beter bestuur en regeer word nie? Dit het die naweek van 15 en 16 Julie weer gebeur toe die sagte winterreën oor die Wes-Kaap geval het en die Kaapse bergreekse met ’n digte laag sneeu tot laag onder bedek is.
Ons was van Stellenbosch af via Franschhoek op pad na Oudtshoorn. In Franschhoek was die Bastillefees in volle swang met Franse vlae en rosette in rooi, wit en blou wat besoekers vir kilometers ver verwelkom het. In die Franschhoekpas het fotograwe mekaar verdring om van die mooiste foto’s denkbaar te neem.
In die Rûens tussen Caledon en Swellendam het die jong graan pas hul heldergroen verskyning bo die grond gemaak met lappies goudgeel Kanola afgeëts teen die spierwit bergreekse en helderblou Suid-Afrikaanse hemelruim. Gelukkig het ek nie net hierdie natuurwonder in my geheue bewaar nie, maar kon ek dit ook op kamera vaslê om weer oor en oor daarna te kyk.
Towerkop, Elandsberg en die Hoeko-vallei buite Ladismith het ons weer na ons kameras laat gryp, maar die mooiste was die Swartberge buite Oudtshoorn wat my maar net weer opnuut laat besef het in watter mooi deel van die land ons woon.
Suid-Afrika is sekerlik een van die mooiste lande ter wêreld, maar word tans op ’n wyse regeer en bestuur wat ons al hoe verder in ’n moeras insleep. Wêreldwyd is kiesers besig om hul vertroue in die politici van die dag te verloor. Ek wil glo daar is baie Suid-Afrikaners soos ek met die versugting en begeerte dat ons mooi land weer so regeer sal word dat elke inwoner ’n menswaardige bestaan sonder vrees vir geweld, korrupsie, rooftogte en inbrake kan voer. Ek wil ook glo dat Suid-Afrika nog oor genoeg kundige en vaardige leiers en bestuurders beskik met visie en ’n wêreld- en lewensbeskouing wat gegrond is op universele waardes soos integriteit, eerlikheid en respek vir menselewens en die natuur en die vooruitgang van Suid-Afrika stel bo die selfsugtige belang van ’n partypolitieke agendatjie of eiebelange.
Politieke ontleders sê die wiel en die gety is besig om te draai. Ons moenie te gou ons geloof in ons land en sy mense verloor nie.
– Higgo Jacobs, Oudtshoorn
Plaasboere het harte
Ek lees ’n sms-boodskap in Die Hoorn gedateer 20 Julie 2017. In die boodskap spreek die persoon bekommernis uit oor vrouens wat op lande werk waar die ryp spierwit lê.
Klaarblyklik is die persoon nie bewus van wat boerdery is of ken nie die kultuur van boerdery nie. Die skrywer kan gerus die rubriek Terloops deur Nolan Venter in Die Burger van 18 Julie 2017 lees. Hy skryf onder andere: “Ek voel weer die geknars van die ryp onder my kindervoete en sien myself opgewonde na ’n vars hopie beesmis huppel. Net om my voete vir ’n wyle in die stomende mis te verwarm terwyl ek my verkluimde hande teen mekaar vryf…” Nolan sluit af met die volgende woorde: “Ai, as ’n mens maar net die wysers van tyd kon terugdraai.”
Nolan se rubriek het my herinner aan my soortgelyke ervarings tydens my kinderjare op die plaas. Ek onthou nog hoe ek en my broer saam met plaaswerkers, mans en vrouens, soggens in die wit ryp wingerdstokkies, aartappels, uie, ens geplant het. Af en toe het ons gou na die vuurtjie gehardloop om ons hande eers weer warm te kry. (Ek bewonder vandag nog plaaswerkers wat uit nat witgerypte hout ’n vuur aan die brand kan kry.)
Nee, plaasmense is nie gepla oor koue of hitte wanneer dit by plaaswerk kom nie. Op ’n plaas werk jy jou in die wit ryp warm en voel nie verkluim soos kantoorpersoneel in dorpe nie. Vrouens wat op plase in die koue werk, is niks erger aan natuurelemente blootgestel as vrouens wat vroegoggend in die winter ons strate, kantore en stoepe vee en skoonmaak nie. So kan ek nog baie voorbeelde noem.
Die sms-boodskapper se bewering dat die werkers se menswees gedisrespekteer word, dat dit onmenslik is om arbeiders so te behandel en dat werkers misbruik word om geld te verdien, is ongetoetste, ongegronde en onkundige simpatie. Die meerderheid boere belê in hulle werkers, werk saam met hulle van vroeg tot laat en kry saam met hulle koud of warm, lekker of swaar.
– Bart Vosloo, Oudtshoorn
Vrae oor salarisse
Ek lees in die koerante van die goeie begroting. Ek lees die “Oudtshoorn News”. Maar ek verstaan nog nie die salarisstorie nie.
Die bedryfsbegroting, wat salarisse moet insluit, is 14,03% hoër as die vorige jaar.
Dit is moeilik om te verwerk as daar bitter min werkers is wie se salarisse met 14,03% verhoog.
Inteendeel, so plus-minus 50% daarvan is die norm. Dit gegewe, word ons werkers mos armer. Maar gelukkig geld dit nie vir alle munisipale werknemers nie.
Volgens mnr Reginald Smit, waarnemende munisipale bestuurder op 12 Mei 2017, is die “algemene salarisaanpassing wat kollektief beding is 7,4%”. Dit maak sin in soverre dit die res van die land aangaan.
Maar, die munisipale bestuurder se salarisverhoging, wat insluit al sy byvoordele, is 60%.
Kan die raadslid wat aan die hoof staan van finansies dit vir ons in die koerant verduidelik, asseblief? Of is dit maar net die slaafse navolging van die nuwe Suid-Afrika-beleid van die rykes word ryker en die armes armer?
Terloops – die skrywes wat ek geplaas het ’n paar maande gelede oor die swak beantwoording van korrespondensie het op dowe (ek wil nie en gaan nie sê dom) ore geval. Nog geen skrywe is beantwoord nie.
Maar die munisipale bestuurder se “vergoeding” is verhoog vanaf R1 359 681 tot R2 109 140 per jaar. Die vraag is: Ons is so in die skuld, hoe kan dit regverdig word?
Praat ek met hulle, dan begin hulle skree en gil.
Die burgemeester se “vergoeding” is verhoog vanaf R450 157 tot R725 688 per jaar. Dit is 62%.
Die ergste is dat die begroting goedgekeur is deur die plaaslike LUR vir plaaslike regering asook die nasionale minister belas met plaaslike regering.
Ek is jammer. Ek glo nie meer die stories van hoeveel afbetaal is en hoe min ons skuld nie.
Dit is aan my verduidelik dat daar R64 000 000 op belegging is, maar dit word gehou om Standard Bank se skuld van R90 000 000 in September 2017 te betaal. Dus, die groot skuld word betaal, maar nie die kleintjies nie.
Hulle kan mos maar bankrot gaan. Ai!
Asseblief, hou op met stories. Vertel die belastingbetaler in die koerant wat die feite is. In ’n brief. Dit kos u niks. Net ’n bietjie tyd en moeite.
Of is dit te veel gevra?
– Belastingbetaler, AJ Wagener
Munisipaliteit antwoord
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het as volg op bostaande brief van AJ Wagener geantwoord:
Vrae oor die salaris van die munisipale bestuurder is reeds met vorige medianavrae beantwoord.
Die salarisse van die munisipale bestuurder en senior amptenare word ingevolge die minister se voorskrifte vir ’n kategorie 3-munisipaliteit betaal. Ingevolge die Government Gazette se bepalings vir ’n kategorie 3-munisipaliteit is die vergoeding van die munisipale bestuurder vir die vorige boekjaar R1 208 463 en die van ander direkteure R987 820. (Dus tot 30 Junie 2017). Vanaf Julie 2017 het alle amptenare, insluitende die munisipale bestuurder en direkteure, ’n salaris verhoging van 7,36% gekry.
Die munisipale bestuurder en direkteure ontvang ’n addisionele 3% soos per hul kontrak.
Die burgemeester se vergoeding is soos volg:
2013/2014 – R677 826; 2014/2015 – R677 826 (geen verhoging is deur die raad aanvaar nie); 2015/2016 – R677 826 (geen verhoging is deur die raad aanvaar nie); 2016/2017 – R758 012.
Die verduideliking dat daar ’n R64 000 000-belegging is, maar gehou word om Standard Bank se skuld van R90 000 000 in September te betaal, is onwaar.
‘Onwettige’ verblyf?
Met verwysing na die berig in Die Hoorn van 6 Julie: Moratorium op huiswinkel-aansoeke.
Hierin word melding gemaak dat die Oudtshoorn Munisipaliteit gaan optree teen onwettige huiswinkels in onder meer Bongulethu, Bridgton, Toekomsrus, Rose Valley en Rosebank.
Dit het my met ironie laat dink aan ons vele briewe aan die munisipaliteit om op te tree teen die onwettige akkommodasiefasiliteite in die dorp. Dié eienaars doen dit as ’n ekstra inkomste op die “sideline”, met minimale bedryfskoste. Ons tradisionele gastehuise se oorhoofse koste is baie hoër omdat ons dit as ’n volwaardige besigheid bedryf. Elke kamer wat dus by ’n onwettige fasiliteit bespreek word, is ’n kamer wat een van die wettige instansies verloor. Dié onwettige fasiliteite steel dus ons gaste en ons en ons personeel se inkomste.
Kompetisie is goed. Dit hou jou op jou tone. Mits die speelvlak gelyk is. Hierdie is dus nie ’n geval van suur druiwe nie. Ek gun elke mens sy plek in die son. Wat vir die een geld, moet egter ook vir die ander geld. Daar is sekere reëls wat gevolg moet word en munisipale goedkeuring moet verkry word voordat mens verblyf mag verkoop.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit en die DA raadslede se onwilligheid om teen hierdie onwettige praktyk op te tree, maar wel teen onwettige huiswinkels, dui vir my op onregverdige bestuur en diskriminasie. Is hulle moontlik bang dat hulle te veel stemme gaan verloor? Dat hulle hulself gaan ongewild maak by die blanke gemeenskap? Volgens die berig is daar geen duidelike riglyne vir die publiek om te volg nie en is huiswinkeleienaars onbewus dat hul besigheid onwettig is.
Nou wonder ek wie se skuld is dit dan dat daar nie riglyne is nie? Is dit dan maar in orde om so entoesiasties op te tree teen onwettige huiswinkels in die bruin en swart woongebiede waar die meeste van dié inwoners geen ander inkomste het nie?
– Hermien Brittnell, Karoo Sun Guesthouse
(Brief aan munisipaliteit gestuur vir reaksie. – Red)
Reservoirs – nog vrae
Eerstens wil ek dankie sê vir die munisipaliteit se vinnige reaksie op my navraag oor die water wat uitlek by die westekantse resevoir(s). Tog vermoed ek dis nie die volledige prentjie nie.
1. Waarom ’n reuse kanaal grawe as die oplossing lê in ’n paar balle wat eersdaags vervang gaan word?
2. Die kleppe/balle is mos nie al die laaste 20 jaar defek nie? Wat het voorheen die vermorste water veroorsaak?
3. Daar word in die antwoord genoem die een reservoir lek, maar dit word weggepraat met ’n klomp tegniese verduidelikings wat nie sin maak nie. Is die eintlike rede nie maar net eenvoudig ’n lekkasie uit een of beide die reservoirs self nie?
As dit so is, waarom dit nie vir die publiek sê en wat beplan word om dit reg te stel nie?
Mens het groot lof en waardering vir die regrukaksie by ons munisipaliteit onder moeilike omstandighede na die oorname van die nuwe raad, maar sekerlik kan die belastingbetaler darem ook deursigtigheid verwag in die proses.
– Jos de Villiers, Oudtshoorn
Dankie aan die Mediclinic!
Ek is sedert Maandag weer in ons vyfster-Mediclinic op Oudtshoorn vir behandeling.
Watter wonderlike ervaring! Vanaf dr Vermeulen se spreekkamers regdeur tot in die saal, kombuis, badkamer.
Diens uit die boonste rakke. Vriendelik, behulpsaam met ywer en omgee, ongeag wie. Ek wil dit amper ’n soort Christus-bediening noem!
Ek kry ook die kans om geestelike gesprekke te hê wat my ook verryk en sommer stukke gesonder laat. Hierdie is ’n kosbare setel van ons Vader!
’n Spesiale woord van dank aan Heino en sy span wat werklik uit hul pad gaan om my goed te bedien en versorg!
Plaas asb hierdie skrywe uit dankbaarheid en waardering vir wat ons inwoners hier in ons midde het. Daar is baie min dorpe en selfs stede wat so gelukkig om so ’n fantastiese mediese fasiliteit te hê.
Aan al die ander doktersvriende wat my gratis van advies voorsien het deur my te dwing om hierdie behandeling te neem, ek waardeer Josh en Leonie. Julle is kosbare vriende. Ook sommer aan almal vir die smse, boodskappe, besoeke – veral broer Ben en skoonsus se bede en koekies en almal wat geestelike oorlogvoering doen om my spoedige herstel te be- werkstellig!
Ag, en natuurlik my ou getroue vriend Johan de Jager vir koerante, tydskrifte en hulp by die huis met Krimmie wat gestap moet word!
Wanneer mens so op jou rug moet lê, leer jy jou ware vriende ken! Dankie almal!
As planne reg werk met slim Wessel, behoort ek Saterdag tuis te wees!
Seën vir julle by ons kosbare Hoorn-koerant! Staan sterk, julle eerlikheid is besig om te wen in ons stryd van ’n beter lewe op die eerlike goddelike manier!
– Nico Ungerer, Oudtshoorn