2de boek van aktivis verskyn

Glen Snyman, ’n onderwyser van Oudtshoorn, met sy nuwe boek, The blind man’s race, wat vanaf vandag te koop is. Foto: Rudy van Heerden

OP 23 September 2020 – midde-in die Covid-19-pandemie – word ’n onderwyser van Oudtshoorn, Glen Snyman, die eerste mens in die geskiedenis van die nuwe demokratiese Suid-Afrika om deur die regering aangekla te word daarvan dat hy sy ras doelbewus en verkeerd geïdentifiseer het op ’n werkaansoekvorm vir ’n onderwyspos.

Snyman was in 2010 die stigter van die burgerregte-aktivistegroep bekend as People Against Race Classification (PARC).

Sedertdien beywer hy hom teen die regering se rasseklassifikasiestelsel, iets wat hy as verouderd, rassisties en ongrond­wetlik bestempel.

Snyman sê hy het sy nuwe boek, The blind man’s race, in 2020 tydens die grendeltyd geskryf en dit in Augustus voltooi.

Hierin het hy probeer voorspel hoe ’n hofsaak in die Hooggeregshof sou verloop indien die staat hom dalk oor sy sienswyses oor rasseklassifikasie voor die hof sou daag.

Min het Snyman geweet dat hy ’n maand later, op 23 September 2020, wel deur die onderwysdepartement in die provinsie aangekla sal word vir so ’n oortreding…

Snyman het op dié dag ’n dagvaarding ontvang van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) om op 14 Oktober 2020 ’n tugverhoor met aanklagte van bedrog en oneerlikheid by te woon.

Dit het verwys na ’n aansoek deur Snyman vir ’n skoolhoofpos.
Op die aansoekvorm het hy sy ras as “African” aangedui.

Hy moedig deur PARC juis al meer as ’n dekade Suid-Afrikaners aan om nie die rasseklassifikasieblokkies op vorms in te vul nie of dit as “African” in te vul.

As hy skuldig bevind sou word, sou dit kon beteken dat hy sy werk sou verloor, en ook sy huis, motor, mediese fonds, polisse en alles waarvoor hy sy lewe lank gewerk het.

Dit het egter nie gebeur nie.

Enkele minute voor die aanvang van sy verhoor op 14 Oktober 2020, het Snyman ’n oproep ontvang dat die staat hul saak teen hom teruggetrek het.
Dit was ’n oorwinning vir PARC en vir homself, sê Snyman.

“Aangesien die Bevolkingsregistrasiewet van 1950 op 27 Junie 1991 weggegooi is, kan die regering nie ’n burger aankla omdat hy sy ras verkeerd voorgestel het nie.”

Glen Snyman is op 22 Junie 1978 in Oudts­hoorn gebore. Hy voltooi sy studie as onderwyser en stel belang in rekenaartegnologie en politiek.

Hy poog ook om ’n positiewe invloed te hê op die samelewing rondom hom, in ’n poging om die lewe vir homself en vir sy medeburgers te verbeter.

Hy sê hy glo: “Reg is altyd reg, al doen niemand dit nie – en verkeerd is altyd verkeerd, selfs al doen almal dit!”

The blind man’s race is te koop by H & R Stationers in Oudtshoorn en op PARC se webblad: parcsa.co.za