Uitspraak in saak teen voormalige munisipale amptenaar wag weer

DIE uitspraak in die saak teen ’n voormalige assistent-superintendent van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat van bedrog en korrupsie aan­gekla word, is verlede week weer eens in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel omdat die betrokke landdros nie beskikbaar was nie.

Die staat beweer dat Frikkie van Staden (53), wat verantwoordelik was vir onder andere die instandhouding van paaie, tussen Maart 2011 en Julie 2014 die Oudtshoorn Munisipaliteit onregmatig beïnvloed het om werk aan ’n beslote korporasie, Kamvelihe General Trading, te verskaf. Die korporasie het aan sy skoonsuster, Francis Booysen, behoort.

Die munisipaliteit het glo verliese van byna R2 miljoen gely.
Altesaam 109 fakture is aan Kam­velihe betaal vir onderhoud van paaie en huur van gereedskap of toerusting. Die geld is in Booysen se rekening inbetaal, wat dit dan onttrek en aan die beskuldigde oorhandig het. Hy het dan R500 tot R1 000 aan Booysen gegee.

Die staat voer aan dat Van Staden versuim het om die munisipaliteit in kennis te stel dat hy die de facto- diensverskaffer is.

Van Staden, wat onskuldig pleit, het getuig dat hy nie aanvanklik daarvan bewus was dat die beslote korporasie aan sy skoonsuster behoort het nie.
Die saak is deur streeklanddros Neels Nortje aangehoor en is verlede week voorlopig deur streeklanddros Sylvia Mandla tot 22 Februarie 2021 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)