Wes-Kaap vra verligting vir wynbedryf

DIE Wes-Kaapse regering het die afgelope dae vertoë gerig aan die nasionale regering om die verbod op wyn- en ander drankverkope op te hef.

Volgens die Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer, het die Wes-Kaapse regering die beperkings wat deur die president aangekondig is, as ’n laaste uitweg aanvaar om die gesondheidsorgstelsel te beskerm.

“Ons het egter aanvaar dat dit slegs veertien dae sou duur en daarna elke sewe dae hersien sou word. Nou, byna ’n maand nadat die beperkings ingestel is, ervaar ons ’n afname in aktiewe en nuut aangemelde Covid-19 gevalle. Die departement van gesondheid in die Wes-Kaap het voldoende beddens, suurstof en personeel om sorg te bied aan elke persoon wat dit nodig het.

“Daarom moet wynverkope nou toegelaat word. Wyndruiwe verteenwoordig 50,3% van die 181 233 ha onder vrugteproduksie in die Wes-Kaap. Die vervangingswaarde van hierdie wyndruiwe beloop R33,94 miljard. Wyn is die derde grootste uitvoerproduk van die Wes-Kaapse ekonomie en dra 6,5% by tot die waarde van die uitvoer uit die provinsie.

Die departement skat dat 45 610 mense in die primêre produksiekant van die bedryf werk en die lewensonderhoud van 228 053 ​​mense ondersteun.”