‘2020-feesjaar is ’n leesjaar’

“Is jy gereed om saam te reis na die toekoms van Afrikaans?”

Dit was die besprekingsonderwerp onlangs op die algemene jaarvergadering van Prins Albert se ATKV-tak. Die geleentheid was in die Jans Rautenbach Schouwburg op die dorp.

Almero Oosthuizen, ATKV-streeks­bestuurder: Boland en Karoo, was die hoofspreker. Die ATKV is vanjaar negentig jaar oud en volgens hom gaan die organisasie dié geleent-heid landwyd met verskeie byeenkomste en projekte vier.

Daniel Hugo (digter en vertaler) het meer vertel oor die interaksie tussen Nederland, België en Suid-Afrika rondom Afrikaans, en Denise Ohlson (ATKV-voorsitter) het gepraat oor die ATKV-werksaamhede en praktiese toepassing van Afrikaans op Prins Albert.

Die Prins Alberter Hanli Burger, wat saam met haar mede-inwoner, die sanger-digter Derek Hendriks, na die KKNK genooi is vir poësievoorlesings en ’n onderhoud, het van haar gedigte voorgelees. Burger is Prins Albert se afgevaardigde na die nasionale ATKV-kongres op Hartenbos in Augustus vanjaar.

Ohlson het die ATKV-jaarprogram op die dorp aangekondig, wat onder meer ’n Nederlandse aand en die stigting van ’n Afrikaans-Nederlandse boekklub insluit. Boekbelangstellendes sal elke tweede maand byeenkom, met ses boeke per jaar wat onder die loep geneem sal word. Dit sluit vertalings uit Nederlands en Vlaams in Afrikaans in.

Die nuwe ATKV-bestuur is ook gekies: Ohlson sal voortaan as ondervoorsitter dien, “omdat ek ’n blaaskans wil neem”, met Aubrey Swanepoel (voorsitter), Elsabé Koen (sekretaresse), Johan du Toit (tesourier) en Abraham Miggels en Marlene Malan (addisionele lede).

Hugo het gesê Afrikaans floreer oorsee, met universiteite in België, Nederland, Pole, Rusland en Ame­rika wat dit as vak aanbied.

Twee Europeërs, prof Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent in België en prof Jerzy Koch van die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole, besoek Suid-Afrikaanse universiteite en feeste – asook Prins Albert – jaarliks. Die romans en poësie van Nederlandse en Belgiese skrywers en digters word druk in Afrikaans vertaal omdat dit Afrikaanse lesers aan buitelandse kulture bekendstel. Vertaalde Afri­kaanse romans en digbundels is ewen­eens gewild in dié twee lande.

Volgens Oosthuizen is 2020 ’n feesjaar vir die ATKV (nasionaal), “want ons is vanjaar 90 jaar oud. Van ’n beskeie begin het die organisasie gegroei tot 340 takke in Suid-Afrika en Namibië, met 74000 lede en 49 projekte landwyd, van koor-, debat-, skryf- en toneel- tot danskompetisies. Afrikaans het verskeie variëteite, van Bolandse tot Kaapse tot Breërivier- tot Bo-Kaap- tot Noord-Kaapse tot Karoo-Afrikaans. Daar is plek vir almal. Dis ’n taal waarin daar op verskillende maniere geskep word.”

Die skryfkuns is een van die ATKV se grootste projekte, vandaar vanjaar se subtema: “Ons feesjaar is ’n leesjaar”.

“Ons daag al ons takke uit om met minstens een leesprojek op hul dorp of streek vorendag te kom.”

Dit is so dat leerders selfs in matriek nog sukkel om met begrip te lees en dikwels selfs hul matriek-vraestelle nie ordentlik verstaan nie, het Ooshuizen gesê. Op grondvlak sal die takke as katalisators dien om mense aan die lees te kry.

Volgens Ohlson vaar die ATKV goed op Prins Albert, “deels te danke aan ons Engelse lede”.

• Vir meer inligting oor ATKV-bedrywighede skryf aan Ohlson by kontrei@023.co.za. (Deur Marlene Malan)