TWEE sake waarin applikante aansoeke ingedien het om teen hul skuldigbevindings en vonnisse te appelleer, is in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel vir die vertaling en oortik van die dokumente wat in Afrikaans opgestel is.
Die twee applikante, Jackson Willemse en David Darries is albei aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal skuldig bevind en gevonnis.
Albei voer aan dat die hof fouteer het met hul skuldigbevinding en dat ’n ander hof moontlik tot ander bevindings kan kom.
Willemse is twaalf jaar tronkstraf opgelê nadat hy op twee klagtes skuldig bevind is.
Hy het by ’n stoor op die plaas Celebratio naby Calitzdorp ingebreek en ’n skootrekenaar en kraggereedskap gesteel, asook by die huiswinkel van Elizabeth Botha van Langverwacht en ’n TV-stel en kruideniersware gesteel het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die sake tot Vrydag 6 Maart uitgestel sodat die aansoeke in Engels vertaal kan word. (Deur Garnett Wicomb)