16de digbundel vir Daniel Hugo

LInks: Daniel Hugo voor die voordeur van sy huis op Prins Albert wat op sy nuwe digbundel afgebeeld is. Die bundel bevat onder meer gedigte wat hy aan sy honde, Emily en Babu, opdra.                         Foto: Marlene Malan

Links: Daniel Hugo voor die voordeur van sy huis op Prins Albert wat op sy nuwe digbundel afgebeeld is. Die bundel bevat onder meer gedigte wat hy aan sy honde, Emily en Babu, opdra.
Foto: Marlene Malan

SY verhuising na die Groot Karoo het ’n groot invloed gehad op sy gedigte. Voorheen was die landskappe in sy skryfwerk Namibië en die Boland. Deesdae is sy werklikheid Prins Albert en sy sonlig en sterrelug, sy klippe, sy plantegroei en sy leefstyl, vertel die digter Daniel Hugo.

Hugo se sestiende digbundel, Openbare domein, is by die KKNK bekend gestel, en verlede week ook by geleent­hede op Wellington en Stellenbosch.

In die stilte van die Karoo het hy baie tyd om oor sy bestaan na te dink, “veral my private lewe teenoor openbare blootstelling. Die vraag bly hoe­veel van my private bestaan kan ek in gedigte openbaar, sonder om myself en my naastes in die verleentheid te stel.”

Dit is die tema van dié digbundel, sê Hugo. “Dis die ewige dilemma van ’n kunstenaar se lewe.”

Openbare domein kan rofweg in vier afdelings verdeel word – met die temas onderskeidelik Prins Albert en die Groot-Karoo, die liefde, Hugo se skryfwerk en digterslewe, en laastens God, sterf­likheid en die dood.

Dis waarom Hugo vir die voorblad ’n foto ge­kies het van die halfoop voordeur van sy huis. “Die bodeur staan oop en laat die vroegoggendson inskyn. ’n Deel van ons vetplanttuin en die Karoo-rante is sigbaar. Die deur simboliseer die skeiding tussen binne en buite, tussen die private en die openbare. Die halfoop deur nooi die leser die bundel binne, en gee hom beperkte toegang tot wat in die huis gebeur. Maar dit gee die huisbewoners omgekeerd ook toegang tot dit wat buite gebeur.

“In die stilte van my studeerkamer is daar bui­te­­geluide wat my gehoorveld binnedring – die leivoor, die swerm spreeus in die pe­perboom, my buurvrou se klavierspel, die getjank van honde, en die pastoor en sy koor se klankversterkte gods­diensbeoefening in die bruin woonbuurt.”

Hugo is nie bang om in die bundel met homself te spot nie. “Ek spot so ’n bietjie met my rym-obsessie. Dis so dat die rym my soms dinge laat sê wat ek nie aanvanklik in gedagte gehad het nie. So word elke vers ’n avontuur wat my hemel of hel toe stuur.

Al het die landskappe in my poësie ver­ander, het dit nie ’n wesenlike uitwerking op my styl gehad nie.”

Wat wel sterker as ooit in Openbare domein na vore kom, is sy swartgalligheid oor die voort­be­staan van Afrikaans, sê Hugo. Dit blyk onder meer uit die volgende gedig: “Ná die dood my inhaal / duur dit nog vyftig jaar / en alles wat ek hier openbaar / word deel van die publieke domein / dan verdwyn ek postuum / in die klank-lose vakuum / van mense sonder ’n taal.”

Die voorbladfoto is deur sy vrou, Marlene Ma­lan, geneem. Sy het ook dié van die akkerboom op sy vorige bundel, Takelwerk, geneem. Hugo het albei digbundels aan haar opgedra.

• Openbare domein is uitgegee deur Naledi, kos R175 en is beskikbaar by meeste boekwinkels.