soms sweetvrae…

Deur Tania Smit

Deur Tania Smit

Die aarde se vrae is vir my soms sweetvrae …soos watter selfoon se kamera die beste is, hoeveel “rams” my laptop moet bykry, of hoe om my budget te laat werk as ek wil aanhou botter eet en wyn drink.

Maar as dit by die skepping se vrae kom, is dit ’n heel ander storie… want al die antwoorde is onder die lig van die sterre oor my hart geskryf, en is maklik om te hoor (al is dit soms moeilik om na te luister).

My vel weet presies hoe voel ordentlike linne, my neus kan brood se gaar op die presies regte tyd uit die oond uit haal.
my hand weet hoeveel sojasous en appelkooskonfyt gemeng moet word dat snoek op sy lekkerste proe, en my voete weet dat kaal sole beter is vir my lyf as plastieksole.

My mammahart ken die verskil tussen ’n aandaghuil en ’n seerhuil, my vrouehart weet wanneer ’n boyfriend nog vashou of al laat los het, en my arms weet vanself wanneer hulle my tienertwee van ver af of van naby moet vashou.

Dis die taal van dankbare grond na genoeg reën, die knyp van genoeg sout vir ’n skaapboud, die voel van jou pad deur ’n seermens se hart, die hoor wanneer om weer te probeer of weg te loop, of die raaksien van ’n mens wat genoeg of te min vir jou gaan wees.

En ek weet ek moet saampraat oor hoe kaapstad se water gaan meer raak, of ’n stukkie van my ekstra belê in daai virtuele geldeenheid, en nou al kan ver­staan hoe inflasie een syfer kan wees terwyl kos se betaal elke week twee syfers opgaan, maar ek doen nie.

Want dis die skepping se antwoorde wat deur eeue heen nog dieselfde is vir adam en einstein en racheltjie de beer en saartjie baardman wat ek die graagste na wil luister.

Dis maklik verstaan, en diep geskryf in waarheid, en sal aan die einde van die maan en sterre se opkom en gaan lê steeds op dieselfde manier gepraat en verstaan word.

En dit is vir my genoeg.