Die stof het die naweek behoorlik by die Red Rock Raceway gestaan toe meer as 110 drywers van regoor Suid-Afrika aan die 30ste Richard Griessen Repairs Klein Karoo Kampioenskappe deelgeneem het.
Die gewilde stock car-byeenkoms, wat deur die Oudtshoorn Motorklub aangebied is, het deelnemers in nege verskillende klasse gelok.
Die klasse was Ninja Rods, 1600 Saloons, 1660 Hooligans, 2.1 Modifieds, Heavy Metals, Midgets, Hotrods, Lexus V8’s en American Saloons. Alhoewel dit langs die baan yskoud was, was die aksie op die baan witwarm toe die drywers mekaar rondte vir rondte die stryd aangesê het.
Die gebrul van enjins, stof en vinnige verbysteek-aksie het die toeskouers deur die loop van die dag en aand vermaak.
Met meer as 114 amptelike inskrywings in 11 kategorieë van regoor Suid-Afrika was daar min tyd vir ’n blaaskans. Die groot aantal deelnemers het in drie uitdunne en ’n finale rondte deelgeneem.
Daar was gedurende die byeenkoms ’n hele paar ongelukke en botsings, met verskeie motors wat skade opgedoen het. Gelukkig is geen ernstige beserings aangemeld nie. Die aksie het tot byna middernag aangehou, waarna die prysuitdeling plaasgevind het en die topdrywers in die verskillende klasse vir hul prestasies vereer is.
Die Klein Karoo Kampioenskappe het oor die afgelope 30 jaar tot een van die grootste en bekendste stock car-byeenkomste op dié motorsport se kalender geword.
Die 30ste aanbieding van die Richard Griessen Repairs Klein Karoo Kampioenskappe sal beslis onthou word vir die groot inskrywingsveld, ure lange baanaksie en die geesdriftige skare wat ten spyte van die koue tot laat die aand langs die baan gebly het.

Uitslae:
Driver of the day: Ricardo Davey
Best prepared car: Andries Brandt en Carlo de Lang
1660:
- Eugene Griessen
- Jason Drake
- Wemer van der Merwe jnr
Lexus V8’s
- Georg von Düring
- Karl Voppichler
- Frikkie Slippers
2.1 Modifieds:
- Ricardo Davey
- Damon Miles
- Burger van der Westhuizen
Midgets A:
- Wessel Rabie
- Schalk Swart
- Donovan Huisamen
Midgets B:
- Daniel Botes
- Theuns Eksteen
- Anton van Zyl
American Saloons:
- Ryan Marais
- Richard Watermeyer
- Juan Roesstorff
Hotrods:
- Sydney van Rensburg
- Andries Brand
- Brennon Green
Heavy Metals:
- Pierre Coetzee
- Jaco Aylward
- Neville Ellard
Ninja Rods:
- Pieter la Grange jnr
- Divan Meyer
- Dylan du Plessis