

DAAR word tans fluks gevorder met die laaste 9 km van die Blossoms-pyplyn tussen die Blossoms-diepwaterboorgate en Oudtshoorn met die hele projek wat einde Maart 2023 voltooi behoort te wees, sê Chris Swart, senior bestuurder: water en riool by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit.
Volgens Swart is die Munisipaliteit tans op skedule met die bou van die gedeelte van die pyplyn wat oor die grond van die Gerrie Ferreira Familietrust (GFFT) loop en wat volgens ’n ooreenkoms op 27 Oktober voltooi moet wees om te voorkom dat ’n bedrag van R7 332 daagliks gehef sal word totdat die konstruksie voltooi is. Een kilometer van die sowat drie kilometer pyp wat oor dié stuk grond aangelê moet word, is reeds vandeesmaand voltooi.
Die voltooiing van die pyplyn is lank vertraag terwyl onderhandelings tussen die munisipaliteit en grond-eienaars gevoer is vir toestemming om die pyplyn oor hul grond te kon bou.
Swart sê in totaal moet nog net sowat 9 km van die 22 km wat die Blossoms-pyplyn lank is, gelê word. Die bouwerk aan die pompstasie self by Blossoms vorder ook fluks. (Deur Liesel le Roux)