PLAASAANVALLE het byna ’n alledaagse ge-beurtenis in Suid-Afrika geword, met AfriForum wat onlangs die EFF en Julius Malema in die hof aangevat het. Vanjaar het alreeds ’n paar gevalle die nuus gehaal.
Dit is dus duidelik dat boere hul veiligheid hoog op hul prioriteitslys moet plaas. Hier is ’n paar wenke om die veiligheid op plase op te skerp:
- Maak vrede met jou bure, want jy weet nooit wanneer jy jou buurman gaan nodig kry nie. In afgeleë gebiede is jou buurman die naaste om te kom help.
- Sorg dat jy jou buurmense/plaaswag se selfoonnommers uit jou kop uit ken. Moenie op jou selfoon staatmaak nie. In ’n noodgeval moet jy dalk staatmaak op iemand anders se foon.
- Sluit aan by ’n plaaswag/buurtwag en maak kennis met die landelike polisielede.
- Beveilig jou huis met diefwering en tra-liehekke. Sit ’n hek in die gang wat na die kamers lei. Dit gaan vir jou ’n bietjie tyd koop om gedurende ’n aanval te reageer. Moenie die hekke en deure laat oopstaan nie.
- Wees waaksaam en oplettend en moenie jou waaksaamheid laat slaplê nie. Mens is dalk geneig om Sondae nie so oplettend te wees as jy van die kerk af kom nie. Baie aanvalle het al so plaasgevind.
- Moenie jou sleutels laat rondlê sodat iemand ’n afdruk of die sleutelnommers kan bekom nie.
- Ons is maar wesens wat alles volgens ’n roetine doen. Ons staan elke dag op dieselfde tyd op, gee die diere op ’n bepaalde tyd kos, sluit die skure op dieselfde tyd elke dag oop. Verander jou roetine so elke nou en dan. Roetine kan ook positief wees. As jy jou buurman of -vrou elke oggend sien as hy/sy die kinders skool toe neem, is dit gerusstellend, maar as jy die oggend hom/haar nie sien nie, bel en vind uit wat aangaan.
- Verlig die gebied rondom jou huis met genoegsame ligte. Met elektrisiteit se prys wat so hoog is, gebruik LED-ligte wat nie so baie krag gebruik nie.
- Gooi klipgruis rondom jou huis wat as ’n vroeë waarskuwing van mense wat loop kan dien.
- Hou honde aan wat as afskrikmiddel en waarskuwing kan dien.
Die droogte het baie boere boonop op hul knieë, en daar is nie altyd geld vir sekuriteitstoerusting ensovoorts nie, maar jy sal moet geld spandeer om jou en jou familie se veiligheid te verseker.
Nog so ’n paar wenke:
• As jy met vakansie gaan, kry iemand betroubaar om na die plaas om te sien. Maak seker jy gee daardie persoon volmag om klagtes namens jou by die polisie te lê. Dit het al in die verlede gebeur dat die persoon wat na ’n plaas omsien ’n saak wou maak na daar ’n inbraak was en hy dit nie kon doen nie omrede hy nie die eienaar was of volmag gehad het nie.
• Indien jou opstal en skure van so geleë is dat jy om die geboue kan ry as jy by die huis kom, doen dit.
• Probeer twee ingange na jou opstal te hê. Hou die omgewing rondom hierdie ingange skoon. Aanvallers moet die paaie nie maklik kan versper nie.
• Maak seker jy is gewapen as jy by die huis kom. Installeer hekmotors sodat jy nie nodig het om uit te klim om die hek oop te maak nie.
• As jy stilhou by die huis, stop sodat jou voertuig se neus in die rigting wat jou sal toelaat om vinnig weg te kom, wys. Moenie dat die neus na ’n muur toe wys nie. In ’n noodgeval gaan jy sukkel om trurat te kry.
• Snoei bome se onderste takke, en beperk struike wat skuiling kan bied aan aanvallers. (Deur Heinrich Bosman)
