MET die volstruisproduksie- seisoen in volle swang, en pryse vir volstruisvere, -vleis en -velle wat uiteindelik begin klim, bring dit verligting vir die boere van die omgewing. Saam met die positiewe is daar egter ook die negatiewe met 10 volstruise wat gestroop en een wat doodgeslaan is.
Die eerste voorval was op Donderdag 15 September en toe weer op Sondag 18 September 2022, in beide gevalle op dieselfde plaas in die Rooiheuwel-omgewing. Die verlies van die voëls beloop duisende rande.
Wanneer volstruise gestroop word, word hulle doodgeslaan, hulle vere gepluk en dan verkoop vir ver onder markverwante pryse.
Die afgelope Sondag is volstruise omstreeks 20:30, sowat 20 minute nadat beurtkrag begin het, gepluk en een doodgeslaan. Die boer wat op die plaas woon, het bewus geraak van sy honde wat blaf, en het gaan ondersoek instel.
Nog ’n boer wat betrokke by die soektog was, maar ook anoniem wil bly, sê dat sowat 10 bakkies by die soektog betrokke was. Daar is spore gevind en gevolg, maar die skuldiges het ongelukkig weggekom. Dié vinnige optrede het egter verhoed dat die vermeende diewe tyd gehad het om die vere te steel.
Met beurtkrag wat tans vir baie langer tye as voorheen duur en ook die produksieseisoen wat pas begin het, sê boere met wie Die Hoorn gepraat het, hulle sal nou genoodsaak wees om baie meer paraat te wees.
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is twee klagtes van veediefstal aangemeld.
In die een geval is vier volstruise gepluk en een dood, en in die ander voorval is ses volstruise gepluk.
Sy sê nog geen arrestasies is gemaak nie. (Deur Angelique Erasmus)
Volstruise loop weer deur
Foto: Angelique Erasmus