Motorfiets gebou uit ou trapfiets en kragopwekker

Claudius Maart (heel regs) en Johandré May (op die fiets) met hul motorfietsie gemaak uit ’n ou trapfiets en stukkende kragopwekker. By hulle is kinders van die omgewing wat nie die kans kon misloop om saam op die foto te verskyn nie. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE vindingrykheid van Oudtshoorniete ken geen perke nie! Onlangs het ’n pa en seun van Bridgton dit bewys deur ’n ou trapfiets en stukkende kragopwekker in ’n motorfietsie te omskep wat teen byna 40 km per uur kan ry.

Claudius Maart, bekend as “Yellow Kaalvoet”, en sy aangenome seun, Johandré May (16), se hande staan vir niks verkeerd nie! Dié twee Oudts­hoorniete het hul tegniese vernuf deur deur-settingsvermoë en nuuskierigheid ontwikkel.

Die Hoorn het op dié twee amateur-ingenieurs afgekom toe Johandré eendag met sy kragopwek-keraangedrewe fiets as’t ware in Suikerbosweg afvlieg. Dit was buitengewoon om ’n trapfiets in jou truspieëltjie te sien wat op jou afpyl. Dit is interessant hoe dié “post-apokaliptiese” stuk ma-sjinerie sy ontstaan gehad het.

Volgens Claudius was dit maklik. Hy self hou daarvan om aan motors, enjins en dies meer te vroetel, en te kyk wat hy daarvan kan maak. Hy het al in die verlede baie van sy eie waentjies en kontrepsies aanmekaargeslaan van goed wat stukkend is of net rondlê. Hy is boonop ook besig om ’n vierwiel-sonpaneelfiets te bou!

“Ons het net ’n gewone trapfiets gehad, en my stukkende kragopwekker. Ek wou graag iets daarmee doen, want ek hou nie daarvan om goed net weg te gooi nie. Dis deesdae baie belangrik om te ‘reduce, reuse en recycle’, soos hulle sê. Die rede hoekom ons die fiets gebou het, is omdat ek baie hou van visvang en partykeer ver moet stap om dit te gaan doen,” vertel Claudius.

Die projek – een van vele waaraan die twee kranige werktuigkundiges tans werk – het eers begin as ’n poging om ’n help-my-trap te bou, maar hulle het gou agtergekom dit sou veel beter wees om bloot net die trapfiets ’n motor te gee.

Claudius sê dit was toe verder maklik. Hy en Johandré, wat meestal ná skool en naweke hand bygesit het, het die motor en brandstoftenk van die kragopwekker verwyder, die tenk aan die fiets se handvatsels vasgemaak; en die motor bo-aan die voorwiel met ’n tipe wipplank-meganisme vasgemaak waarmee die motor opgelig of op die voorwiel neergesit kan word. Met die kragopwekkermotor se dryfas op die voorwiel, dryf dit die motorfiets vorentoe. ’n Bietjie swyswerk, bedrading en beplanning was al wat nog nodig was.

Volgens Claudius het hy homself oor die jare heen baie geleer van hoe motors en enjins werk. “Ek het jare gelede met my motorfietse begin peuter en ’n groot liefde vir dié soort goed ont-wikkel.

Hier­die fiets self is nog nie klaar nie!”

Die volgende stap is om ’n koppelaar en ratte by te voeg, vertel hy. “Op die oomblik is die motortjie bietjie te vinnig vir die wiel self, so hy spin soms so bietjie. Die clutch en ratte sal daarvoor help.”

Hy voeg by die doel hiervan is nie net om sy eie lewe te vergemaklik nie, maar hopelik om dit eendag uit te brei tot iets wat meer vir die gemeenskap kan beteken. “Ek wil naderhand ’n produk hê wat ons kan verkoop, maar ook vir mense kan leer hoe om self te maak.

“Baie mense in ons gemeenskap en selfs plaasgemeenskappe kan so iets gebruik om hul lewens makliker te maak.”

Vir Johandré is die hele belewenis nie net pret nie, maar hy leer baie en ontwikkel self ’n groot liefde daarvoor om met sy hande te werk.

• Kyk vandag na ’n video op Die Hoorn se Facebook-blad waar Claudius wys hoe sy motorfietsie kan ry. (Deur Stefan Skapie Goosen)