Vere reggeskud vir gróót boeremusiekmakietie!

Die manne van Die Hardeveld Boereorkes in aksie tydens ‘n vorige optrede. (Foto verskaf.)

JUK jou voete al in afwagting? Klop jou hart deesdae op die ritme van jou gunsteling stukkie skoffelmusiek? Indien jy nog nie een van hierdie aandoenings oorgekom het nie, wees paraat, die Grootvoël Boeremusiekfees begin môre met die belofte van ’n verruklike naweek!

“Een van die groot liefdes in my lewe is tradisionele boeremusiek, en om hierdie besonderse musiek te laat bly voortleef is vir my ’n groot missie en prioriteit.”

So het Willem Marais, algemene bestuurder van TFASA op Oudtshoorn onlangs gesê oor waarom hy sy geliefde Grootvoël Boeremusiekfees, waarvan hy ook sedert 2014 die hoof-organiseerder is, oorspronklik op die been gebring het. Vanjaar se weergawe van die fees vind op 23 en 24 September in die Hoërskool Oudtshoorn se skoolsaal plaas.

“Een van my pogings om tradisionele boeremusiek soveel blootstelling as moontlik te gee is die reël van ’n unieke boeremusiekfees wat ek ’n jaarlikse instelling gemaak het, en wel hier op Oudtshoorn – die dorp met die ‘groot voëls’, vandaar die naam van die fees,” voeg hy by.

Volgens Willem het hy die fees aanvanklik op sy eie georganiseer, maar soos die fees al hoe groter geraak het, is ’n reëlingskomitee gevorm.

Ná ’n afwesigheid van vier jaar, wil Willem die fees in sy volle glorie laat herleef. “Die 2022 fees beloof om beter en groter as al die vorige feeste te wees!”

Hy vertel dat die fees verder staatmaak op ’n klein groepie borge wat sy missie en liefde vir tradisionele boeremusiek ondersteun. Een van hier-die borge, Radio Namakwaland, sal vanjaar as die amptelike media-borg dien. Hulle sal daagliks regstreekse uitsendings vanaf die fees doen en daar is reeds voorbrand vir die fees gemaak met ‘Wakisklanke’-programme wat Vrydagaande verdere blootstelling vir die fees verleen het.

Goeie voetstamp, ‘langarm tot jy omval’-boeremusiek gaan natuurlik hand-aan-hand met ’n lekker drankie, vuur en boerekos. Alle kos, drank en ander verversings sal vanjaar verskaf word deur die Struisies-span, “wat ’n groot bydrae lewer om die fees ’n sukses te maak”.

“Oudergewoonte vind die fees oor dieselfde tydperk as Erfenisdag, of altans ‘Braaidag’ plaas, en ek is seker daar sal baie vure brand,” voeg Willem by.

Wilem sê dat, soos tydens die eerste fees in 2014, die Boeremusiekfees weer hierdie jaar ’n liefdadigheidsgeleentheid sal wees, en inwoners van verskeie aftreeoorde sal besoek word om ’n bietjie musiek te geniet. “Verder wil ek dit beklemtoon dat die geleentheid geen winsmotief het nie, en suiwer daaroor gaan om die liefde vir die saak!”

By vanjaar se uitgawe van die fees sal boeremusiekliefhebbers ses baie bekende orkeste van regoor Suid-Afrika kan beleef.

Die orkeste
Die Hoorn het lesers reeds oor die afgelope weke voorgestel aan die orkeste wat by die fees betrokke gaan wees. Indien jy hierdie profiele misgeloop het, is hier ’n lysie van die manne wat verantwoordelik gaan wees vir jou langarm-lafenis:

Brian Niewoudt en die Karoo Boere-orkes, Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels, Hardeveld Boereorkes, Frikkie Mac Donald en sy Voorslag Boereorkes, Boeremusiek op Wiele en Christo Wiese se Grootvoël Boeremusiekorkes.

Moenie langer wag nie! Koop vandag nog jul kaartjies vir die 2022 Grootvoël Boeremusiekfees, geborg deur TFASA en Radio Namakwaland 93.4fm. Naweekkaartjies kos slegs R140, en dagkaartjies slegs R80.

Gaan volg die fees op Facebook of kontak Brian Nieuwoudt by 082 322 7526, of Christo Wiese by 083 453 2806 vir verdere navrae.