’N RAADSVERGADERING van die Kannaland Munisipaliteit met ’n lywige agenda kon nie Dinsdag plaasvind nie omdat die raadslede van Icosa en die DA nie teenwoordig was nie.
Die Hoorn het die Icosa-president, Jeffrey Donson, by die kantore van sy party opgespoor en hom genader oor waarom hy nie die vergadering bygewoon het nie.
Donson het as volg verduidelik: “Minister Anton Bredell het in ’n skrywe waarin hy ons as raadslede herstel het, opdrag gegee dat die waarnemende munisipale bestuurder, Ian Avontuur, die speaker, Rodge Albertus, moet vervang omdat Bredell inligting van Albertus se party, KIP, ontvang het dat Albertus deur die party geskors is en gevolglik nie meer die posisie as speaker kan beklee nie.
“Hierdie is dus ’n onwettige vergadering en Icosa kan nie aan sulke onwettighede deelneem nie.”
Inligting dat KIP vir Albertus met Peter-George Rooi gaan vervang, is ook aan Bredell deurgegee.
In ’n skrywe aan Avontuur gedateer 9 September gee Bredell opdrag dat die OVK ingelig moet word rondom die vakature wat in die raad ontstaan het as gevolg van die skorsing van Albertus deur sy party.
Raadslid Aletta Steenkamp van die DA het telefonies aan Die Hoorn gesê dat sy om persoonlike redes nie die vergadering kon bywoon nie en betyds haar verskoning ingedien het.
Nadat dit duidelik geword het dat daar geen vergadering gaan plaasvind nie, was daar ’n hewige woordewisseling buite die stadsaal – waar die vergadering sou plaasvind – tussen Albertus en lede van die publiek.
Die polisie het deurgaans ’n sterk teenwoordigheid handhaaf.
Op die agenda van die vergadering is ook voorsiening gemaak vir die hantering van ’n tugsaak betreffende die drie Icosa-raadslede, Donson asook Werner Meshoa en Hyrin Ruiters; asook vir die aanstelling van ’n waarnemende direkteur infrastruktuur en gemeenskapsdienste.
Volgens Nicky Valentyn, burgemeester van Kannaland, sal Dinsdag se vergadering wel binne sewe dae plaasvind. (Deur Deon Meyer)
Kannaland se beplande raadsvergadering duik in hek
Jeffrey Donson. Foto: Deon Meyer