Joodse gemeenskap vier Rosh Hashanah

Bo: Die eet van appels gedoop in heu­ning is sinoniem met Rosh Hashanah. Foto: Stefan Skapie Goosen

Die Joodse Sinagoge in Baron van Reedestraat is reeds jare lank ’n ikoniese gebou op Oudtshoorn. Foto: Stefan Skapie Goosen

AL het Oudtshoorn se Joodse bevolking drasties verklein sedert die eerste groep Jode hulself in die middel van die 19de eeu hier kom vestig het, vorm hierdie families wat steeds die dorp hul tuiste noem nogtans ’n kardinale deel van beide die sake- en landbousektor van die grootvoël paradys.

Dus is dit heel paslik om saam met hulle die Joodse Nuwejaar, alombekend as Rosh Hashanah, in te huldig. Vanjaar vind hierdie religieuse viering van sononder Sondag, 25 September tot sononder Dinsdag, 27 September plaas.

Die geskiedenis
Oudtshoorn staan reeds sedert die 19de eeu ook bekend as Klein Jerusalem, met sowat 600 Joodse gesinne wat in ’n stadium op die dorp gewoon het. Tussen 500 en 600 Joodse gesinne het hulle tydens die bloeitydperk van die volstruisbedryf op Oudtshoorn gevestig.

Daar was volgens Jon Seligman, direkteur van die uitgrawings-, opnames- en navorsingsafdeling by die Israeliese Oudhede-beheerliggaam, twee groepe Joodse immigrante wat tussen die middel van die 19de eeu en die eerste dekade van die 20ste eeu na Oudtshoorn gekom het.

Die eerste groep was deel van die Britse immigrasieskema van 1858 tot 1861, waartydens groot groepe mense van Duitse oorsprong hulle in die Kaap gevestig het, saam met handelaars van die Britse Eilande.

Die tweede groep, skryf Seligman op sy web­blad seligman.org.il, het bestaan ​​uit Jode uit Letland en Litaue wat ontsnap het van die mobilisering van baie jong Jode na die Russiese leër tussen 1881 en 1910, en die antisemitisme wat hul vermoë om produktiewe lewens te lei, beperk het.

Die meeste het na Brittanje gevlug, waarvandaan hulle weer na die VSA of na Britse kolonies, soos Suid-Afrika, verhuis het.

Die Joodse gemeenskap van Oudtshoorn het oor die jare heen so groot geword, volgens Seligman, dat daar hotelle, restaurante en winkels was wat aan spesifieke Joodse gebruike en tradisies begin voldoen het.

Gedurende byvoorbeeld die Sabbat, religieuse vakansiedae en die Pasga (Shabbat, the High Holidays and Passover) het die dorp die Joodse gebruike nagekom deur handel vir hierdie tydperk te staak.

Die Joodse gemeenskap het onder meer twee sinagoges gebou, ’n begraafplaas uitgelê en talle besighede op Oudts­hoorn gevestig. Die CP Nel Museum huisves vandag nog ’n replika van die binnekant van die St Johnstraat-sinagoge wat nie meer bestaan nie.

Die viering
Die nuwejaar, Rosh Hashanah, is vir die Joodse gemeenskap ’n tydperk waarin hulle veral gebede in die sinagoge sê wat hoofsaaklik handel oor die lewe en geluk van individue en oor die vrede van die mensdom.

Die gebruike en seremonies wat tydens die vieringe plaasvind is ingestel om gedagtes oor God en oor verhoudings met jou medemens te bevorder. Die gebedsboek wat vir hierdie feeste gebruik word, word “Machzor” genoem.

Kerse word aangesteek sodat die nuwejaar met lig en vreugde begin en kaartjies – soos dié wat mens op jou verjaarsdag sal ontvang – word ge-stuur met die tradisionele Rosh Hashanah-groet: “Le Shanah Tovah Tikatevu”. Die vertaling hiervan lui soos volg: “Mag jy ingeskryf word vir ’n goeie jaar”.

Een van die indrukwekkendste gedeeltes van die Rosh Hashanah-dienste is die blaas van die ramshoring – die Shofar, wat vandag nog op Oudtshoorn plaasvind. Die Shofar is ’n natuurlike blaasinstrument en een van die oudste instrumente wat aan die mensdom bekend is.

’n Gewilde manier om Rosh Hashanah verder te vier is om appels te eet wat in heuning gedoop is, ’n simbool van die wens vir ’n voorspoedige nuwe jaar. Die eet van appels gedoop in heu­ning is sinoniem met Rosh Hashanah. “Challah” (wat rond beteken) – ’n appel word in heuning gedoop en tydens die aandete geëet. Dit simboliseer ’n goeie en soet jaar. Die appel self simboliseer ’n “ronde” of foutlose jaar.

Granate word ook gedurende Rosh Hashanah geëet. Dit simboli­seer die hoop of wens dat die nuwe jaar gevul sal wees met net so baie goeie dinge as die pitte van die granaat. Nuwe vrugte van die seisoen word tydens Rosh Hashanah geëet.