Werk aan Tuishuis-gewel vorder fluks

Bo en onder: Joost Pyck besig om fyner detail uit die sandsteenbok te kerf. Foto’s: Hannes Visser

Lede van HOE (Heritage Oudtshoorn Erfenis) het dit op hulle geneem om die verweerde sandsteengewel van Tuishuis in Baron van Reedesraat te laat herstel.

Volgens Hazel Jonker van HOE, was Joost Pyck, bekende klip-ambagsman, die ideale person om vir die hertelwerk te nader. Joost is een van slegs enkele ambagsmanne in die land wat nog met klip kan werk en hy het reeds aan talle sandsteengeboue in Oudtshoorn gewerk. Hy het verlede week met die werk begin en teen Woensdag was die resultate reeds duidelik sigbaar.

Joost het voorverlede week reeds ’n gedeelte van ’n groot sandsteenblok in die veld langs Victoriaweg afgebreek en dit tot by Tuishuis laat vervoer het.

Hy is sedertdein op die perseel besig om die nuwe deel met die hand uit te kerf.

Hy het Woensdag gesê die steen behoort teen volgende week gereed te wees om op die gewel vasgeheg te word.

Jonker sê dat HOE tans net genoeg geld het om die beskadigde gewel te herstel, maar dat die hele fasade agter die gewel ook gerestoureer moet word.

Dit sal egter ongeveer R10 000 kos vir die volledige restourasie en Jonker doen ’n beroep op inwoners en sakelui om ter wille van die behoud van die dorp se erfenisskatte, hand in die sak te steek. “Oudtshoorn het van die mooiste erfenisgeboue in die Klein Karoo en dit is vir ons belangrik dat dié geboue behoue moet bly vir ons nageslag, en ook vir toerisme,” het Jonker gesê.

Mense wat hulle weg oopsien om ’n bydrae te maak, kan Carol Jeal van HOE by 083 268 6708 kontak. (Deur Hannes Visser)

Be the first to comment on "Werk aan Tuishuis-gewel vorder fluks"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*