Jaco Nel, ’n sakeman van Oudtshoorn, is verlede Vrydag by Nampo in Bredasdorp aangewys as die Kommersiële wenner in Landbouweekblad, Omnia Nutriology en Graan SA se Boereplanne-kompetisie. Jaco het ’n unieke en uiters praktiese hulpmiddel ontwerp wat houtstompe vashou as dit gekap moet word.
Hy het die Safe Chop vir die Boerebeplanner-kompetisie ingeskryf en is as die wenner in die kommersiële afdeling aangewys. Die Hoorn het Jaco Maandag by sy fabriek besoek waar hy die gebruik van Safe Chop gedemonstreer het.
Hy sê hy het die idee gekry toe sy tienjarige dogter wou houtkap, maar vreeslik gesukkel het om die stukkie hout regop te laat staan en dan te kap. Hy vertel: “Ek het skielik die idee gekry om ’n besem in twee helftes te sny en hulle op ’n manier teenoor mekaar vas te maak om te kyk of dit ’n stuk hout sal vashou. Dit het wraggies gewerk en toe begin ek die idee verfyn en so is Safe Chop gebore.”
Jaco vervaardig al die komponente van Safe Chop self en doen ook self die bemarking. Hy is tans besig om aan nog ’n innoverende hulpmiddel vir die boubedryf te werk, maar sê dit is nog in die beplanningstadium. (Deur Hannes Visser)
Be the first to comment on "Innoverende uitvinder wen"