Nog ’n Oudtshoorn sakepersoon, Angelique Erasmus, mede-eienaar van Die Hoorn, het ’n toekenning vir Oudtshoorn ingepalm. Sy was een van 51 takfinaliste in die SACBW (South African Council for Business Woman) se jaarlikse Recognition Awards-kompetisie. Sy is as die wenner in Oudtshoorn aangewys in die Entrepeneur of the Year – Rising Star kategorie.
Daar is drie kategorieë waarvoor sakevroue landswyd kan inskryf, waarvan slegs 20 vanjaar as finaliste aangewys is. As wenner van die tak ding Angelique op 19 Oktober in die Paarl mee teen finaliste van oor die hele land. Dit is die eerste keer dat ’n inskrywing van Oudtshoorn ontvang is, en deurdring na die nasionale rondte. Angelique en haar man, Jaco het Die Hoorn in 2022 gekoop nadat sy lank as joernalis by die koerant gewerk het.
“Ek het ongelooflik baie by beide die le Roux’s geleer, veral Liesel, en is hul ewig dankbaar vir die geleentheid om daar te werk en later die koe-rant as redakteur oor te neem.”
Die SACBW is die eerste sakekamer vir vroue wat in 1988 deur Angelique se ouma, die kunskenner en sakevrou, Rika Venter gestig is. Oor die feit dat sy 36 jaar later ’n toekenning ontvang by die organisasie wat deur haar ouma gestig is, sê Angelique: “Dit was vir my baie moeilik om by die funksie nie emosioneel te raak nie, omdat dit my so baie aan haar herinner. Ons wou haar verras met die nuus dat ons die koerant gekoop het, maar sy is ongelukkig oorlede voor die koop deur is. Sy is op 23 Augustus 2022 op 87 oorlede, slegs 5 weke na my oupa Thinus wat 94 was.”
Angelique se raad aan jong of voornemende sakevroue is: “Hou net aan – My ouma het altyd gesê ‘Gaan net aan Angel’ en ek glo aanhouer wen. Sy wou gehad het dat vroue se drome moet vlerke kry, en ek dink tog deur aan te hou kom jy uiteindelik bo uit.” Sy is dankbaar vir die onder- steuning wat sy van haar man, Jaco en familie ontvang en vir elke persoon wat haar deur die jare mentor en steeds daagliks inspireer en bystaan. Vir ontspanning ry Angelique graag perd en reël sy perde-uithouritte en skilder, soos haar ouma. (Deur Hannes Visser)
Be the first to comment on "Hoorn-eienaar kry SACBW toekenning"