MIETSIE GOLIATH het in Maart 2021 ’n sopkombuis in die Welgeluk-omgewing buite Oudtshoorn begin omdat sy die nood daarvoor gesien het tydens die Covid-pandemie, maar vanjaar wil sy na die kinders van die area se Kersfees omsien, en vra om hulp.
Goliath, ’n inwoner van Zeekoegat-plaas wat onder Welgeluk val, het die sopkombuis juis op die been gebring omdat sy kon sien hoe die kinders van die area gely het onder die pandemie, met hul ouers wat skaars vir hulle kon sorg.
“Die kinders was eintlik meer op die straat, want hulle het daai tyd minder begin skooltoe gaan. My sopkombuis het juis meer gefokus rondom die kinders van Zeekoegat, en kinders van die plase daar naby. Ek gaan van my huis af na hulle toe,” het sy aan Die Hoorn vertel.
Die areas wat sy al bedien het sluit Zeekoegat, Welgeluk, Volmoed-noord by die stasie, informele nedersettings op Oudtshoorn en selfs Calitzdorp in.
Volgens Goliath het sy juis in 2021 ’n sopkombuis met geskenkies vir die kinders van die omgewing gehou, maar vanjaar wil sy graag fokus op geskenkies, om die kinders se Kersfees op te kikker.
Goliath, wat op Oudtshoorn as huishulp en kinderoppasser werk, sê sy het in die verlede haar sopkombuise self finansier. “Later het ek hulp by Die Hoorn ontvang, wat ’n bietjie lig op my sopkombuis geskyn het, en ek het so skenkings ontvang,” vertel sy. Sy het bygevoeg dat sonder skenkings uit die gemeenskap, dit baie moeilik raak om die honderde kinders wat sy bedien te voed. Haar sopkombuise word meestal op naweke gehou, wanneer moontlik.
Vir Kersfees vanjaar het Goliath gesê dat sy voorheen self geskenkies bymekaar gemaak het, maar met die aantal kinders wat sy bedien, tussen die ouderdom van 3 tot 12 jaar, het sy vanjaar hulp nodig. Sy vra vir lekkernye soos aartappelskyfies en “sweets”; en skryfbehoeftes of klein speeldinge.
Sy beplan om die geskenke op 24 Desember uit te deel, en indien mense bestanddele vir die sopkombuis ook wil skenk, is hulle welkom. Sy verwag minstens 200 kinders.
• Enigiemand wat kan help, kan haar bel of Whatsapp by 063 131 6217. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Welgeluk-sopkombuis wil lekker Kersfees vir kinders bied
Een van Mietsie Goliath se sopkombuise tydens die Covid-pandemie. Van links gee Nella Roman, Beatrice Piedt en Goliath sop en brood vir van die kinders van Welgeluk. Foto: Liesel le Roux