“EK wil die stigma rondom Covid-19 breek en hê dat almal moet weet dit is ’n werklikheid, dat hulle versigtig moet wees en dat enigiemand dit kan aansteek. Dit is niks om voor skaam te wees nie,” sê ’n jong vrouekonstabel van Oudtshoorn, Jayde Coetzee (25).
Jade, wat positief getoets het vir die virus, sê sy het besluit om na vore te kom om mense in te lig oor die virus, en toe ’n inskrywing op haar Facebook-bladsy gemaak.
“Die een of ander tyd gaan baie van ons positief toets vir Covid-19. Ek hoop dat my pos op Facebook mense se oë sal oopmaak. Ek wil net hê mense moet versigtig wees en mooi na hulleself kyk.”
Jayde, ’n oud-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn, is al ses jaar lank ’n konstabel. Sy skryf so op haar Facebook-bladsy:
“Ek het positief getoets vir Covid-19 en het matige simptome, maar ek is oukei en weet ek sal dié siekte oorkom. My prioriteit is om my familie, vriende en kollegas veilig te hou. Ek wil hieroor praat, want om die een of ander rede is daar ’n stigma om die virus.
“Ten spyte van my pogings om my hande te was, te ontsmet en ’n masker te dra, het ek besef dat baie van ons wat werk of blootgestel is aan mense wat die virus het, die risiko loop om dit aan te steek.
“Wees veilig almal. Waar ons nou in die oog van die storm inbeweeg, is dit meer as ooit belangrik om die mense om ons te beskerm! Liefde en Lig, Jade .
“Covid-19, ek gaan jou ’n les leer.”