Alles dui daarop dat die huwelik die afgelope vier jaar tussen die DA en die Karoo-Gemeenskapsparty (KGP) in Prins Albert verby is. Dit kom nadat die burgemeester van Prins Albert, Goliat Lottering (KGP), einde verlede week aangekondig het dat hy dié koalisie die rug gaan toekeer en voortaan met die ANC hier saamwerk.
“Die DA in die Sentraal-Karoo neem kennis van die voorneme van die KGP om sy koalisie met die DA te verbreek. Ons wag steeds op die rede vir hierdie skielik plan,” lui ’n verklaring van die DA.
Lottering het by navraag gesê hy sal vandag (Maandag 6 Julie) op medianavrae reageer.
Die DA het in die vorige munisipale verkiesing in 2016 die meeste stemme op hom verenig, maar dit was nie ’n volstrekte meerderheid nie. Dit het dié party gedwing om in ’n samewerkingsooreenkoms met die KGP hier te gaan. Lottering is toe as burgemeester aangewys, met Linda Jaquet en Stoffel Botes (albei DA) onderskeidelik as onderburgemeester en speaker.
Die raad in Prins Albert bestaan uit drie DA-, twee KGP- en twee ANC-lede. Dit blyk dat dit veral Jaquet en Botes se poste is wat nou in gevaar is.
“Hoewel ons nie ’n volstrekte meerderheid hier kon kry nie, wil die DA in die Sentraal-Karoo die inwoners bedank vir die meerderheidstem in 2016. Ons bedank ook ons koalisievennoot vir die tyd waarin ons kon saamwerk. Ongelukkig het dié samewerkingsverhouding onhoudbaar geword vanweë die DA se geen-toleransie-benadering tot korrupsie en ons onverbiddelike strewe na onberispelike administrasie sodat méér belastinggeld uiteindelik die kiesers self kan bereik. Ons herinner kiesers aan die voorgenome plaaslike bestuursverkiesing in 2021 en moedig hulle aan om te sorg dat die DA dié keer ’n volstrekte meerderheid by die stembus behaal, om enige koalisie te voorkom.”
Dit blyk dat Lottering in dié stadium die leiding geneem het om ook die koalisie met die DA van die ander twee Karoo-partye, die KDF (Karoo Development Forum) en die KOP (Karoo Ontwikkelingsparty), onderskeidelik in Beaufort-Wes en Laingsburg, te verbreek en met die
ANC in dié dorpe saam te werk. Prins Albert, Beaufort-Wes en Laingsburg vorm saam die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit (SKDM), met dr Annelie Rabe (DA) in die burgemeesterstoel. Hy sal ook op navrae hieroor reageer, het Lottering gesê.
Dié verwikkelinge volg op Prins Albert se prestasie om weer in die vorige boekjaar ’n skoon oudit te behaal. Okkie Terblanche, kiesafdelingshoof van Prins Albert, het in ’n verklaring gesê in ’n voorlegging aan die Nasionale Raad van Provinsies einde Junie, waarin die ouditeur-generaal die munisipale prestasies van die 2018/19-boekjaar voorgehou het, het 27
uit 30 Wes-Kaapse munisipaliteite skoon oudits behaal – almal onder DA-beheer. “Die DA in Prins Albert wens die munisipaliteit geluk met hierdie prestasie die afgelope drie jaar. Waar die DA regeer, of dit in ’n koalisie is soos in Prins Albert of met ’n volstrekte meerderheid, is ons verbind tot gesonde finansiële bestuur en goeie regering.
“Die DA is ook in ’n koalisie met die SKDM, onder die leierskap van die uitvoerende burgemeester, dr Annelie Rabie. In 2016, ná die munisipale verkiesing, het die DA-koalisie die SKDM in ’n ongesonde finansiële situasie oorgeneem, met baie vrae oor vorige geldelike onreëlmatighede. Die SKDM het die afgelope jare aansienlike verbetering getoon wat sy finansiële bestuur betref, asook verbeterde likiditeit die afgelope twee jaar.”