’N MATRIKULANT van Ladismith Sekondêr is positief vir Covid-19 getoets. Die hoof, me Shaanta Lee, het ouers Vrydag per nuusbrief hieroor ingelig en die leerder se pa bedank vir sy openhartigheid en eerlikheid om die skool daaroor in te lig.
Volgens Lee het agt leerders en vyf personeellede wat in noue kontak met die leerder was, hulle onmiddellik laat toets en wag die skool vir die uitslae. Sy het ouers versoek om meelewing te betoon teenoor die leerder en sy familie. Sy het ook aangedui dat die skool volgens regulasies skoongemaak sou word.
“Ons het die nodige kontak gemaak met alle owerhede en kan ongelukkig nie in hierdie stadium die skool sluit nie.”
OPVOEDERS EN OUERS ONTEVREDE OOR OPENING VAN SKOLE
Opvoeders van Ladismith Sekondêr en Towerkop Primêr het verlede week saam met ’n aantal leerders ’n plakkaatbetoging gehou om uiting aan hul vrese oor die opening van skole vir meer leerders te gee nadat paniek onder ouers in Nissenville posgevat het.
Glyn Bell, ’n opvoeder by Towerkop, sê opvoeders is bereid om by hul skole aan te bly, maar kan nie die veiligheid van leerders waarborg nie. “Geen persoonlike beskermingsdrag of sosiale afstand is ’n definitiewe waarborg vir leerders en hul ouers nie.”
Ouers van Towerkop, het ook Maandagoggend vanaf 07:00 saam met die president van Icosa, Jeffrey Donson, by die skool bymekaargekom om hul ontevredenheid met die heropening van skole te kenne te gee.
“As gemeenskapsleier et ek ‘n morele verpligting om die gemeenskap te ondersteun in sake van gemeenskaplike belang. Dit is belangrik dat ons opvoeders en leerders beskerm teen die gevare van Covid-19, want hulle is die toekoms van ons land,” het hy gesê en die ANC gekritiseer vir die besluit om skole vir meer leerders te open. “Angie Motshekga wil die onderwysstelsel van die land verwoes. Dit is so duidelik soos daglig dat die ANC-regering nie ‘n plan het hoe om hierdie pandemie te bestuur nie.”
Rodge Albertus,voorsitter van die beheerliggaam van Towerkop sê die meeste leerders van die skool kom uit gesinne wat nie aan mediese fondse behoort nie, woon in die plakkerskampe met min toegang tot skoon lopende water en kan nie reinigingsmiddels bekostig nie.
Ricardo Herandien, voorsitter van die beheerliggaam van Ladismith Sekondêr wat ook by die plakkaatbetoging was, het die regering as boelies bestempel wat hul wil op opvoeders en leerders wil afdwing. (Berig deur Deon Meyer)