VIR Tristan (14), Luhann (10) en Aldo (9) van Wyk, drie broers van Oudtshoorn, was die opwinding verlede Donderdag baie groot toe hulle die eerste keer sedert Februarie vanjaar weer by hul oupa- en oumagrootjie, Thinus (93) en Rika (86) Venter, kon gaan kuier.
Die Venters woon in die versorgingseenheid van Millenniumpark, ’n aftreeoord op Oudtshoorn, en kon die laaste maande weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls geen besoekers ontvang nie.
Die bestuur van die oord het egter onlangs besluit om ’n plan te maak dat inwoners wel hul geliefdes kan sien.
“Met die inperkingsreëls en onsekerheid van die pandemie is daar ook baie verlange en hartseer van kinders en familie wat graag hul ouers wil besoek en daarom het ons besluit om ’n plan te maak,” sê Sharron van der Schyff, bestuurder van Millenniumpark.
Jy kan nou ’n afspraak reël vir ’n heining-kuier met ’n veilige afstand tussen julle.
“Heining-kuiers by aftreeoorde en ouetehuise in Suid-Afrika is tans aan die orde van die dag.
Die afsprake duur wel slegs 15 minute op ’n keer, maar daar is niks beter as om mekaar weer in lewende lywe te sien nie!.
“Dit was maar baie moeilik om nie deur die heining te kon klim en vir my oupa en ouma ’n drukkie te kan gee nie,” sê Tristan. “Maar ek is bly ons kon hulle darem ’n rukkie sien.”
Vir Luhann was dit soms moeilik om te hoor met al die motors wat in die straat verbyry en ’n geraas maak, terwyl Aldo sê dat sy oupa- en oumagrootjie hom nie duidelik kon hoor praat nie, omdat hy sy masker moes aanhou.
Maar al drie was dit eens dat dit beter is om mekaar so te kan sien, as om mekaar glad nie te sien nie.
En hoewel dié kort weersiens oor ’n afstand ook moeilik en hartseer was vir almal, sê die drie broers hulle besef dat hul ouma- en oupagrootjie Venter se veiligheid baie belangriker is sodat hulle in die toekoms wanneer die grendeltydperk opgehef word, weer lekker sal kan saamkuier. (Deur Angelique Erasmus)