SATERDAG se Wilgewandel Wedloop het meer as 150 deelnemers na die gewilde vakansieplaas gelok om oor óf 21,1 km, óf 10 km hul staal te wys.
Volgens Sinead Hattingh, een van die organiseerders, het die dag die perfekte weersomstandighede vir die deelnemers ingehou.
Sy sê dat die wedloop vanjaar vir die eerste keer aangebied is deur die Iron-Jawed Multisportklub in samewerking met Wilgewandel Vakansieplaas.
Die 21,1 km-wedloop is deur Godwin Heyns in ’n tyd van 1 uur 11 min en 20 sek gewen, met die eerste vrou, Melissa van Rensburg wat die wedloop in 1 uur 30 min en 25 sek voltooi het. Beide is lede van die Nedbank Atletiekklub op George.
Lloyd Bosman het die 10 km in ’n vinnige tyd van 32 min 38 sek gewen, en Ashrica Booysen van Knysna het die vrouewedloop in 45 min 52 sek voltooi.
Oudtshoorn se Nedbank Atletiekklub-atlete het ook goed gevaar. Ernst van Zyl het die 21,1 km mans- stapwedloop gewen met Mariana van Zyl die eerste vrouestapper. Bianca Malan en Theresa Bester was onderskeidelik die tweede en derde vroue algeheel.
In die 10 km-wedloop was Annemarie le Roux die eerste 50+ vrou, Geraldine Loftie-Eaton die eerste 70+ vrou, en Trix de Villiers die eerste 80+ vrou oor die wenstreep. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Wedloop lok atlete na Wilgewandel
Die wenners van die verskeie 21,1 km wedlope saam met organiseerders en borge van die Wilgewandel Wedloop van Saterdag, 27 Augustus. Foto: Santie Hattingh