DIE Evangelies Lutherse Kerk op Oudtshoorn se Jeugbrigade vier in Oktober vanjaar hul 70ste bestaansjaar.
Volgens kapt David Julius word ’n groot feesviering vanaf Woensdag 19 tot Sondag 23 Oktober beplan.
Dit skop af met ’n biduur om 19:00 op Woensdag 19 Oktober in die kerk in Springbokweg.
Die volgende aand volg ’n familie-aand met stories uit die verlede en die bestaan van die brigade asook ’n ligte vingerete.
Die Vrydagaand word ’n modeparade deur brigadelede gehou waar Mnr en Mej Lutheren gekies sal word.
Toegangsgeld vir dié twee geleenthede is R20 vir volwassenes en R5 vir kinders.
Saterdag 22 Oktober se verrigtinge begin met ’n feestelike optog vanaf die Bridgton Sportgronde met trompoppies en die Oudtshoorn Brandweer gelei deur die brigade-orkes. ’n Verskeidenheid speletjies sal deur die dag op die kerkterrein aangebied word en verrigtinge sal afgesluit word met ’n musiekfees in die kerk (toegangsfooi onderskeidelik R20 en R5).
Die fees bereik Sondag 23 Oktober sy hoogtepunt met nog ’n optog vanaf die sportterrein met verskillende brigades en orkeste na die kerk waar ’n kransleggingseremonie sal plaasvind.
Die feesdiens word daarna om 10:00 in die St Simons Anglikaanse Kerk gehou, gevolg deur ’n ligte ete by die Lutherse Kerk in Springbokweg.
Die feesviering word Maandag 24 Oktober afgesluit met ’n dankseggingsdiens.
Vir meer besonderhede kan kapt Julius geskakel word by 071 609 2809. (Deur Garnett Wicomb)
Lutherse Jeugbrigade vier hul 70ste jaar!
Die Lutherse Brigade-orkes. Foto: Garnett Wicomb