Melanie Ayslie, die pastoor van ’n kerkgroep op Ladismith, gee betekenis aan die woord “naasteliefde”. Sy het die nood aan voeding in die gemeenskap raakgesien en haar geloof in aksie gesit deur ’n sopkombuis met eie fondse te begin.
Ayslie vertel toe daar net te veel mense by haar woning begin aanklop het, het sy besef dat daar ’n behoefte aan ten minste een daaglikse maaltyd by behoeftiges in die dorp bestaan.
“Ek het kospakkies uit eie fondse begin opmaak. Dit sou vleisstukkies en groente insluit. Die behoefte het egter gegroei en ek het besluit om ’n paar vroue te nader om my te help met die voorbereiding van ’n basiese maaltyd.
Sy het daarna die maaltye met haar bakkie in die gemeenskap tussen behoeftiges gaan uitdeel.
“My man en kinders het my hierin ondersteun en self ook ingespring om te help waar hulle kon. Ek het briewe op briewe geskryf vir befondsing en na twintig jaar is die sopkombuis as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer.”
Sy het by die plaaslike munisipaliteit aansoek gedoen om die vervalle Nissenville Biblioteek te gebruik en ’n ooreenkoms met hul aangegaan ingevolge waarvan sy die gebou herstel en dan nie huur hoef te betaal nie.
“Om die gebou geskik te kon kry vir voedselvoorbereiding, het koste aan arbeid en materiaal meegebring. Dit sluit herstelwerk in aan die gebou soos die vervanging van vensters en deure, teel van vloere, herstel van twee toilette asook die aankoop van stowe en kaste vir die kombuis.
Voorts ondersteun die Departement Maatskaplike Dienste haar met ’n leesprojek, terwyl die gemeenskapswerker, David Opperman, ook vir haar van groot hulp is.
Die Community Faith Followers is duidelik nie net ’n paddastoel-sopkombuis nie, maar ’n gemeenskapsprojek met ’n breër visie. (Deur Deon Meyer)
Hier sien ’n mens naasteliefde in aksie
Past Melanie Ayslie (tweede van links) van Community Faith Followers en haar staatmakers by van die smaakvolle etes wat hulle aan hulpbehoewendes gee. Foto: Deon Meyer