Die probleem-kruising
Dit bly vir my ‘n raaisel waarom daar nie ’n verkeerslig by die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat aangebring kan word nie.
Volgens koerantberigte is daar te min voertuie om ’n verkeerslig te regverdig. Nou waarheen verdwyn die verkeer dan vanaf Kerkstraat?
My voorstel is dat verkeersbeamptes, by wyse van ’n proefneming, aan diens gestel word gedurende spitstye – 06:45 tot 08:15, 12:45 tot 14:15, en weer 16:45 tot 17:15.
Daar sal genoeg aflosbeamptes moet wees, want die beamptes se arms sal maar moeg word.
Terwyl die aflosspan rus, moet hulle die telwerk doen.
Ek wéét hoe druk die verkeersvloei daar is.
Ek doen ’n ernstige beroep op die hoof van verkeer om dit vir slegs één week te beproef, ASSEBLIEF. Dit sal betroubare statistiek beskikbaar stel om verantwoordelike besluite te kan neem.
– Pieter, Oudtshoorn
Padblokkades van voertuie op die N12
Ek sien taamlik gereeld padblokkades deur verkeersbeamptes op die N12 tussen De Rust en Oudtshoorn, wat ’n baie goeie indruk wek van die belangrikheid van padveiligheid. Ek dink egter die volgende sal ’n groot verskil maak!
Ek gebruik die N12 tussen De Rust en Oudtshoorn omtrent drie keer ’n week.
Dit is verbasend hoeveel voertuie, vragmotors en busse ingesluit, op dié pad se voor- en agterligte defek is, meestal die hoofligte. Maar as ek in die truspieëltjie kyk, werk baie van die agterligte ook nie.
Laas week gaan ’n voertuig met net een hooflig op ’n dubbellyn by my verby, maar toe hy die verkeersdepartement se voertuig langs die pad sien staan, skakel hy die voertuig se ligte af sodat jy nie kan sien die ligte is foutief nie.
– Andre JvR
Die dae rek alreeds
Eskom is seker die enigste besigheid ter wêreld wat sy kliënte aanmoedig om NIE sy produk te koop nie.
Ons word voortdurend daaraan herinner om krag te bespaar… Skakel ligte, geysers en swembadpompe af.
Nie dat die meeste van ons dit nie reeds doen nie … ons is so grootgemaak, want dit kos geld.
Nou ’n vriendelike wenk aan die hoof van Oudtshoorn se elektriese afdeling: Verstel die tydskakelaars/dagligskakelaars. Die straatligte skyn steeds soggens terwyl die son reeds helder skyn.
Asseblief!
– Pieter, Oudtshoorn