TYDELIKE werkers is gister in die Groter Oudtshoorn ingespan om te help met die verwydering van huishoudelike vullis nadat munisipale vullisverwyderingspersoneel en algemene werkers Dinsdagoggend begin staak het.
Die munisipaliteit het Dinsdag via sosiale media met inwoners gekommunikeer en versoek dat vullissakke wat vir dié dag op sypaadjies gesit is, teruggeneem moet word nadat die skoonmaakwerkers die oggend geweier het om uit te gaan. Geen vullis is die dag verwyder nie.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, skenk die munisipale bestuur aandag aan griewe en probleme van die vullisverwyderingspersoneel.
Van die personeel het klaarblyklik aangedui hulle staak weens ’n “tekort aan algemene beskermende toerusting”.
Mangqwengqwe sê die munisipaliteit sal tydelike werkers gebruik totdat die geskil tussen die munisipaliteit en die stakende werkers besleg is.
“Die munisipale bestuur skenk tans aandag aan die situasie.
Vullisverwydering sal intussen moontlik langer neem as gewoonlik, omdat die aantal personeel en vullis- trokke wat nou gebruik word, beperk is,” het hy gesê.
“Ons is bewus van die ongerief wat die situasie veroorsaak. Die bestuur onderneem om alles moontlik te doen om die dienste in die huidige omstandighede te lewer.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
Tydelike werkers verwyder vullis terwyl staking hier voortduur
