Polisie slaan toe op dwelms en misdaad in Oudtshoorn

Dagga (bo) en mandraxtablette (onder).

DIE Polisie het vandeesmaand reeds altesame 63 mense vir die besit van en handel in dwelms op Oudtshoorn in hegtenis geneem, sê ’n persverklaring wat die week uitgereik is.

Beslag is gelê op altesame 755 mandraxtablette, 158 gram tik en 12 kg dagga.

Die optrede was deel van ’n groter misdaadbekampingsveldtog van die Polisie in die Suid-Kaap waarin ook dwelverwante en ander inhegtenisnemings op George gedoen is. Verskeie afdelings van die Polisie was by die veldtog betrokke.

In die ernstigste geval het die Polisie op Woensdag, 10 Februarie, op ’n huis in Jan Makaistraat, Bridgton, toegeslaan en dit deursoek. Die huis is ’n bekende dwelmafsetpunt.

Daar is 400 Mandrax-tablette in ’n plastieksak in ’n slaapkamer gevind. Hulle het ook vier “bankies” met tik in dieselfde kamer gevind. ’n Man van 32 jaar oud is in verband met die saak vir die onwettige besit van dwelms in hegtenis geneem.

Die ander dwelms waarop beslag gelê is, was in kleiner hoeveelhede.
Inhegtenisnemings is ook gedoen vir 31 inbrake, 110 aanrandings, 13 gevalle van roof, 8 diefstalle uit voertuie en 22 diefstalle uit winkels.

Volgens die polisiepersverklaring is die Polisie bewus van nog mense wat met misdaad verbind word, maar nog in hegtenis geneem moet word.
Die Polisie bedank die publiek vir hul wenke en hulp om op die dwelms beslag te lê en om verdagtes aan te keer.

Die Polisie het hul kommer uitgespreek oor die aantal batterye wat uit voertuie gesteel word en gevra dat voertuigeienaars die batterye van hul voer­tuie laat graveer met die voertuig se registrasienommer.

Daar was ook ’n hele aantal hekmotorbatterye gesteel. Die Polisie beveel aan dat eienaars die hekmotors moet toesluit en ook die batterye laat grafeer.