22-jarige sê hy kap man met klip om homself te verdedig

DIE 22-jarige Justin Baartman, wat van die moord op die 63-jarige Klaas Campher aangekla word, erken dat hy Campher die oggend van 23 Januarie verlede jaar in die veld naby Bokkraal verskeie kere met ’n klip gekap het om homself te verdedig.

Die saak teen Baartman, van Dysselsdorp, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof ná die slotargumente van die staat en die verdediging vir uitspraak uitgestel tot 23 Maart.

Volgens Baartman het hy die oggend gaan hout soek toe hy die oorledene raakgeloop het waar hy onder ’n boom gesit het. Campher het vir hom ’n sigaret gevra waarna hy Baartman glo brandewyn aangebied het.

Nadat Baartman klaar gedrink het, wou die oorledene betaling daarvoor hê. Toe Baartman vra hoe, omdat hy nie geld by hom gehad het nie, het die oorledene glo gesê met seks en sy broek probeer aftrek.

Toe Baartman weier het Campher hom na be­wering met ’n klip aangeval, waarna Baartman ook ’n groot klip opgetel en hom daarmee gekap het.

Kapt Marius Fourie van die De Rust Polisie het getuig dat Baartman die volgende dag ’n bekentenis afgelê het waarin hy sê dat hy die oorledene drie keer in die gesig en drie keer op sy kop gekap het.

Hy was baie dronk van die brandewyn omdat hy nie daaraan gewoond is nie, en het glo “uitgepass”. Die Polisie het hom daar aangetref waar hy en die oorledene op die grond gelê het.

Baartman het in die hof getuig dat hy die oorledene die eerste keer op sy kop gekap het, toe twee keer in die gesig en daarna aanhoudend op sy kop.
Volgens hom was hy bang die oorledene maak hom dood en verkrag hom, en hy het eers opgehou kap toe hy moeg geword het.

Hendrik van Hansen het getuig dat hy op die bakleiery afgekom en gesien het hoe Baartman die oorledene met ’n klip “so groot soos ’n sokkerbal” op sy kop kap.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het dit aan Baartman gestel dat hy moeg geword het omdat dit ’n baie groot klip was waarmee hy die oorledene gekap het.

Smith vra die hof vir skuldigbevinding aan moord terwyl Baartman se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha aanvoer dat Baartman slegs aan strafbare manslag skuldig bevind kan word indien hy die grense van selfverdediging oorskry het.

Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla. (Deur Garnett Wicomb)