Rotariërs vereer dié twee voorvatvroue van Oudtshoorn

Dalia Wilck en Suné Rupping is verlede week deur die Oudtshoorn Rotariërs met die Paul Harris-toekenning vereer, en is daarmee die eerste vroue van Oudtshoorn wat dié hoogste eer van die Rotariërs vir hul bydrae aan die gemeenskap ontvang. Hier van links is Carl-Heinz Duisberg (distriksgoewerneur vir Distrik 9350 wat bestaan uit 58 Rotariërklubs in Angola, Namibië en die westelike deel van Suid-Afrika), Suné Rupping (assistent-goewer­neur in dié distrik), Dalia Wilck (president van die Oudtshoorn Rotariërs), André van Greunen en Leon Coetzee, albei vorige ontvangers van dié toekenning. Foto: Schalk le Roux

TWEE vroue van Oudtshoorn wat al diep spore in die gemeenskap getrap het, Dalia Wilck en Suné Rupping, is verlede week deur die Oudtshoorn Rotariërs met die gesogte Paul Harris-toekenning vereer. Dié toekenning is die hoogste eer wat ’n Rotariër kan ontvang vir sy of haar bydrae aan die gemeenskap. Rota­riërklubs vereer van tyd tot tyd lede deur dié toekenning aan hulle te gee.

Vorige ontvangers van die toekenning op Oudtshoorn is André van Greunen (twee keer), Leon Coetzee, Piet Wannenburg, Lionel Tait, Morné du Plessis, Gawie Malherbe en Nic Matthis.

Dalia Wilck het in 2015/2016 die eerste vrouepresident van die Oudts­hoorn Rotariërs geword, en het daartydens ’n leidende rol gespeel in die opgra­dering en uitbreiding van die Pie­rewiet Crèche in Volmoed – ’n projek wat in 2019 bekroon is as die beste gemeenskapprojek van die 58 Rota­riërtakke in die distrik waar­binne Oudtshoorn val. Sy is vanjaar vir die tweede termyn president.

Suné Rupping was in 2017/2018 en 2018/2019 vir twee termyne presi­dent van die plaaslike klub en is sedert 2019/2020 die assistent-goe­werneur van die distrik met die klubs van Oudtshoorn, George, Mosselbaai, Plettenbergbaai, Knysna en Beaufort-Wes wat onder haar val.

Waar die Rotariërs die afgelope jare in die Groter Oudtshoorn ge­woeker en gewerk het, was Wilck en Rupping inderdaad altyd daar om leiding te neem of saam te werk – soos met die verspreiding van kospakkies, aanbied van ’n sopkombuis, die maak en skenking van lapmaskers tydens die pandemie, ’n Jars of Hope-projek met sopprodukte vir mense in nood en ’n jaarlikse Krismisboks-projek. (Deur Liesel le Roux)