Die Wes-Kaapse Regering sê alle staatsdienste, insluitend skole, sal voorlopig normaal funksioneer ondanks die ernstige weerstoestande wat vir Woensdag 3 Junie en Donderdag 4 Junie voorspel word.
NUWE VERWIKKELING (2 Junie, 15:30): Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het intussen aangekondig dat alle skole in die Eden- en Sentraal Karoo-onderwysdistrik op Woensdag 3 Junie en Donderdag 4 Junie gesluit sal wees weens die verwagte ernstige weerstoestande.
Dit volg nadat die Provinsiale Rampbestuursentrum deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ingelig is oor ‘n afsnylaagdrukstelsel wat na verwagting dele van die Tuinroete en Karoo vanaf Woensdag sal beïnvloed.
Volgens die SAWD word swaar reën, sterk wind, baie koue toestande en rowwe seetoestande verwag. Die grootste impak word tans vir die oostelike dele van die Tuinroete voorspel, waar ‘n vlak 8-waarskuwing uitgereik is. ‘n Vlak 4-waarskuwing geld vir die Sentraal-Karoo, insluitend Laingsburg en Swellendam.

Inwoners in die Tuinroete-gebied kan volgens voorspellings tot 200 mm reën ontvang. In die Karoo word tussen 60 mm en 80 mm reën voorspel.
Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het gesê die verwagte reënval op reeds versadigde grond verhoog die risiko van oorstromings, stygende rivierpeile, skade aan infrastruktuur en onderbrekings van noodsaaklike dienste.
Hy waarsku ook dat landelike gemeenskappe en boere afgesny kan word indien paaie oorstroom of beskadig word.
“Gegewe die onlangse reënval oor die provinsie en opvangsgebiede wat reeds versadig is, bestaan daar ‘n verhoogde risiko van riviere wat styg, damme wat oorloop, skade aan infrastruktuur en ontwrigting van noodsaaklike dienste,” het Bredell gesê.
Rampbestuurstrukture op provinsiale en munisipale vlak is reeds geaktiveer, terwyl nooddienste, gesondheidsdienste en reddingspanne op gereedheidsgrondslag geplaas is.
Die regering het egter beklemtoon dat alle staatsfasiliteite en dienste, insluitend skole, tans normaal sal voortgaan.
“Indien dit verander, sal opdaterings gekommunikeer word op grond van deurlopende assesserings van plaaslike toestande en risiko’s,” lui die verklaring.
Boere en landelike gemeenskappe word aangeraai om voldoende voorrade vir mense en vee aan te hou, toerusting en infrastruktuur te beveilig en vee uit gebiede wat geneig is tot oorstromings te verskuif waar nodig.
Inwoners word aangemoedig om amptelike kommunikasiekanale van die Wes-Kaapse Regering, plaaslike munisipaliteite en die SAWD dop te hou vir verdere opdaterings.
Die publiek word verder versoek om nie deur oorstroomde paaie, brûe of riviere te beweeg nie, noodnommers byderhand te hou en instruksies van owerhede en nooddienste te volg.
Lees ook:
Weerdiens waarsku oor moontlike swaar reën vanaf Woensdag
Prins Albert-tehuis trek swaar ná vloede
Calitzdorp onderwyser help baba veilig die wêreld in tydens vloede