Staat vra lewenslange tronkstraf

Deur Garnett Wicomb
LEWENSLANK! Dit is die vonnis wat die staat vra vir Magdaleen Titus, vrou van die vermoorde soldaat, stafsersPreston Titus, en haar mede-beskuldigde, die huurmoordenaar, Justice Mooi.

Adv Stoffel Prinsloo in die hof saam met Justice Mooi en Magdaleen Titus. Foto: Garnett Wicomb

Vonnisverrigtinge in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn is vandag na die argumente van die staat en die verdediging tot Dinsdag uitgestel.

Magdalene Titus en Mooi is in November verlede jaar aan moord en regsverydeling skuldig bevind terwyl hul twee mede-beskuldigdes, Natashia Stuurman en Masithembe January, vrygespreek is.

Regter Nolwazi Boqwana het bevind dat Titus die meesterbrein agter die beplanning van haar man se moord was en haar as ‘n groot leuenaar beskryf.

Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, het die hof gversoek om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslank omdat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan.

Volgens Prinsloo is Mooi ‘n eerste oortreder en is hy binne enkele minute in Port Elizabeth deur Magdalene Titus oorreed om Oudtshoorn toe te kom en haar man te vermoor. Prinsloo het toegegee dat geen vonnis die lewe van die oorledene sal terugbring nie, maar dat 25 jaar in die tronk nie ‘n gepaste vonnis vir Mooi sal wees nie.

Volgens hom het Mooi ‘n voorbeeldige lewe gelei en kan hy dit in die gevangenis voortsit.

Magdalene Titus se regsverteenwoordiger, Henk Carstens, het die hof ook vir ‘n korter vonnis as lewenslank gevra.

Sy is ook ‘n eerste oortreder en hou vol dat sy nie die misdaad gepleeg het waarvoor sy skuldig bevind is nie.

Volgens haar dogters was sy nog altyd ‘n goeie ma. Sy was die voorsitter van die SANW se vroueklub en ANC-raadslid ook baie betrokke in die gemeenskap. 

Die staatsaanklaer, adv Cristhénus van der Vijver, het in sy betoog gesêe die enigste gepaste vonnis vir beide Titus en Mooi, is een van lewenslange gevangenisstraf.

Volgens hom bestaan daar geen wesenlike of dwingende omstandighede om van die minimum vonnis af te wyk nie.

“Die oorledene is in sy eie huis waar sy jongste dogter in ‘n aangrensend kamer geslaap het, wreed vermoor,”  

Volgens hom het Mooi iemand vermoor wat hy nog nooit ontmoet het nie en dit vir geld gedoen.

Magdaleen Titus was in ‘n vertrouensposisie en sy sowel as Mooi het baie tyd gehad om te besin.

Volgens Van der Vijver behoort die twee se persoonlike omstandighede nie die wreedheid van die moord te oorskadu nie.

Hy het ook ‘n skrywe van die familie van die vermoorde soldaat aan die hof voorgehou waarin hulle sê die moord is beplan en dat lewenslange tronkstraf die enigste gepaste vonnis sal wees en afsluiting sal gee.

Sy versoek is dat albei lewenslank vir moord en agt tot tien jaar vir regsverydeling op gelê word wat samelopend uitgedien kan word. Die saak is vir vonnisopleggeing tot Dinsdag om 12:00 uitgestel.