Oudtshoorn verloor groot innoveerder

DIE Klein Karoo het verlede Woensdag een van sy innoverendste inwo­ners verloor met die dood van die wyn­maker van Grundheim, Dys Grundling (45), aan ’n hartaanval. Dys is die aand by sy huis oorlede.

Toe die plaas Sandkoppies waar Grundheim geleë is, se wingerde met die droogte begin vrek het, het Dys begin om wyer te dink en produkte te ontwikkel wat reeds landwyd en selfs wêreldwyd bekend is, soos die befaamde gin-produkte Black Mountain, Naakte Naartjie en Doringrosie, die Rumkat Rum en die Viva Vermouth Blanc. Hy het daardeur ’n leier geword om nuwe tendense in die drankbedryf raak te sien.

Dys, wat gebore is en grootgeword het op Oudtshoorn, het in 2013 be­kendheid verwerf toe sy Rosyntjie­wyn die oë laat rek het by die Michel­- angelo International Wine Awards en Grundheim se eerste plati­num-toe­ken­ning ontvang het. Uit die 1 415 inskrywings daardie jaar het net drie wyne dié eer te beurt geval.

“Dys het verder gedink as Oudts­hoorn en Suid-Afrika toe die droog­te die wingerde begin verwoes het,” sê Niel Els, Skål Internasionaal se junior vise-president en mede-eienaar van die Turnberry Boutique Hotel.

Els sê hy was so beïndruk met die gehalte en mooi verpakking van produkte soos die Doringrosie, Naakte Naartjie en die Rumkat Rum dat hy begin het om daarvan as promosiemateriaal saam te neem na internasionale toe­rismeskoue. “Dit was maklik om te vervoer en dit sê so baie van Afrikaans en die Klein Karoo. Nou gebeur dit al as ek internasionaal reis dat mense my vra om van dié produkte saam te bring!”

Jacques Conradie, wynmaker van Karusa en ’n vriend van Dys, sê Dys se nederigheid en onvoorwaardelike liefde vir sy gesin en plaas, en sy passie vir sy produkte het van hom die mens gemaak wat hy leer ken het.

“Hy was altyd aktief en besig, en agter sy ondeunde glimlag en skerp humorsin was ’n meester met baie insig, kennis en drome vir Grundheim se toekoms. “Hy laat ’n groot leemte in die Suid-Afrikaanse wyn­bedryf. Dit is egter hier in Oudts­hoorn, waar hy baie oophand gehelp, ondersteun en voor omgegee het, waar hy die meeste gemis sal word.”

Dys word oorleef deur sy vrou Elana, ’n dogter Elarna (18), sy ouers, Danie en Susan, en twee susters, Ena Barnard en Suria Groenewald.

Dys se lewe word Vrydag om 16:00 by Grundheim gevier. Almal is welkom. (Deur Liesel le Roux)