KAARTJIES vir Karen Zoid se Kango Grotte-konsert (Karen Zoid Unplugged) het gevlieg nadat kaartjieverkope daarvoor by Computicket Vrydagoggend ge-open het. Dié kaartjies wat R500 per per- soon kos, was teen Dinsdagoggend uit- verkoop!
Ook kaartjies vir die ander konsert wat vanjaar in die Kango Grotte aangebied word, Charl du Plessis se klavieruitvoering (Die Kangogrotte-konsert) verkoop tans fluks.
Dié twee konserte wat vanjaar tydens die KKNK in die ikoniese Kango Grotte buite Oudtshoorn aangebied word, wil ’n bewustheid oor dié natuurwonder skep en die kollig laat val op die uniekheid en bewaring daarvan.
Alison Moos, bedryfsbestuurder van die Kango Grotte, sê die moratorium op die aanbieding van konserte in die Grotte is as spesiale vergunning eenmalig deur die Wes-Kaapse regering gelig met streng voorwaardes vir die konserte.
Volgens haar is dit onwaarskynlik dat sulke konserte weer daar aangebied sal word.
Die gebruik van die Grotte vir die konserte is ook deur Erfenis Wes-Kaap goedgekeur.
Die konserte sal in die groot Van Zylsaal gehou word, die eerste groot vertrek wanneer mens die Kango Grotte binnestap.
Hugo Theart, artistieke hoof van Kunste Onbeperk wat die KKNK aanbied, sê gehore by die twee konserte word beperk met streng riglyne om te verseker dat die konserte geen impak op die Grotte sal hê nie.
Beide konserte is byvoorbeeld akoesties sonder groot klanktoerusting.
’n Deel van die opbrengs van die twee konserte sal vir die bewaring van die Grotte geskenk word.
Intussen kan feesgangers wat die konserte gaan bywoon, uitsien na ’n ervaring soos min. Die Kango Grotte is nie net asemrowend mooi nie, maar die akoestiek daarvan is ook legendaries. (Deur Liesel le Roux)