Verhoor teen pastoor begin na 2 jaar

DIE eerste klaer in die verhoor teen ’n pastoor van Oudtshoorn, wat op 37 klag­tes van seksuele molestering en verkrag­ting teregstaan, het Maandag (24 Fe­- bruarie) in die Oudtshoorn Streekhof begin getuig.

Stephanus Olivier, ’n pastoor van die Pinkster Protestante Kerk (PPK) op Oudts­hoorn, het op al die klagtes onskuldig gepleit.

Hy is ’n voormalige amptenaar van die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Hy is in Oktober 2018 in hegtenis geneem en dieselfde maand borgtog van R10 000 toegestaan.

Die klaer was 13 jaar oud toe die beweerde voorvalle in September 2003 plaasgevind het.

Die vrou, wat in camera getuig het, beweer die voorvalle het by die pastoor se huis, sy kantoor by die munisipaliteit en in die kerk, waar hy destyds ’n jeugpastoor was, se gebeds- en moederskamer plaasgevind.

Die verhoor is in camera gehou om die klaers se identiteit te beskerm.
Omdat die verhoor in camera was, kon die publiek dit nie bywoon nie. Onder­steuners van Olivier wat Maandag by die hof was, moes buite die hofsaal wag tydens die verhoor.

Tydens haar getuienis het die klaer die hof vertel dat Olivier vir haar gesê om stil te bly oor die voorvalle, omdat sy “ ’n moeilike kind” was en hy ’n pastoor is en niemand haar sal glo nie.

Die kruisondervraging van die vrou deur Olivier se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het Dinsdag begin.

Tydens die kruisondervraging het sy die hele tyd afgekyk. Van der Bergh het dit aan haar gestel dat daar haar getuienis verskil van haar aanvanklike verklaring.

Op versoek van die klaer het die hof daarna vir ’n wyle verdaag.
Van der Bergh het dit aan haar gestel dat sy dié versoek gerig het omdat die vrae te moeilik geraak het vir haar en sy wou asem skep.

“Ek gaan betoog dat jy jou getuienis aanpas,” het hy aan haar gesê.

Die klaagster het in ’n stadium aan Van der Bergh gesê dat hy haar probeer uitlok.

Die landdros, Daniël Boks, het die saak ná etenstyd uitgestel nadat die klaer siek geword het en dokter toe geneem is.

Van der Bergh het Woensdag sy kruis­ondervraging afgesluit. Hy het in die hof gesê daar is bewerings dat die klaer R10 000 aangebied is om die klag in te dien.

Die hof het Woensdag ook vroeër verdaag nadat die klaer gevra het vir tyd omdat sy ontsteld was. Die saak is deur Boks uitge­stel na 5, 7 en 11 Mei 2020. (Deur Angelique Erasmus)