Hongersnood en skelms is besig om die woonbuurte Bergsig en Royal Heights in Calitzdorp, geleidelik gevaarsones te maak.
Inwoners en eienaars van besighede daar slaap deesdae al hoe slegter met een oog oop. Kemo Lango, die eienaar van ‘n spazawinkel, was Vrydag 27 Mei 2020 die teiken van rowers en is met ‘n mes gedreig.
Dirk Abrahams, ‘n lid van die buurtwag sê :” Die arme man was vreesbevange toe ons op die toneel kom. Hulle het geld geëis. Toe vat hulle al die kontant wat in die winkel was. Daar was in daardie stadium sowat R400 kontant .”
Inwoners wou die rowers aankeer, maar hulle het weggekom toe hulle oor drade gespring en die veld ingevlug het.
Noloyiso Rwenxana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê ‘n klag van diefstal is geopen, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Diewe het ook by die bekende R62-drankwinkel probeer inbreek, maar moes met leë hande omdraai omdat die drank uit die winkel verwyder was aangesien drankwinkels onder inbrekers deurloop. (Berig deur Deon Meyer)