Spaar so brandstof

MET brandstofpryse wat deesdae gereeld soos ’n wipplank op en af beweeg moet almal maar hulle gordels stywer trek om te probeer kop bo water te hou met die vervoerkostes.

Die Hoorn het so bietjie gaan rondsnuffel na maniere oor hoe om brandstof te bespaar en op die volgende wenke afgekom.

  • Diens jou motor gereeld, selfs al ry jy nie so baie nie, sorg dat jy jou motor ten minste een keer per jaar ’n goeie diens gee.
  • Hou jou motor se banddruk dop. ’n Band wat te sag is maak jou motor swaarder op brandstof.
  • Beplan jou rit sodat jy nie heen en weer hoef te ry nie.
  • Versnel egalig. Moenie vinnig wegtrek of te vinnig om draaie gaan nie. Indien jou motor ’n “eco”-funksie het, gebruik dit.
  • Verwissel van rat vroeër as wat jy normaalweg sou doen. Om brandstof te bespaar verwissel van rat op 2 500 retoere vir petrol enjins en 2 000 retoere vir dieselenjins. Van die heedendaagse voertuie het ’n aanwyser wat vir jou sê om van rat te verander.
  • Hou by die spoedgrens. Hoe vinniger jy ry, hoe meer brandstof gebruik jy.
  • Moenie jou motor vir lang rukke laat luier (idle) nie. Deesdae skakel van die nuwe motors sommer self af.
  • Gebruik die lugversorger spaarsamig. Nou vra julle seker “In Oudtshoorn se hitte?!”. Probeer maar, want jou lugversorger maak jou voertuig 10% swaarder op brandstof.
  • Moenie onnodige swaar goed in jou motor rondry nie. Hoe ligter jou voertuig, hoe minder brandstof gebruik dit.
  • Versnel voor jy ’n bult opgaan. Die bietjie meer momentum help baie. Dit geld veral vir die klein motors wat kleiner enjins het. (Deur Heinrich Bosman)