DIE Kaapse Hooggeregshof het die vonnis van 38 jaar direkte gevangenisstraf wat die Oudtshoorn Streekhof aan die oudbalju Abraine Fernandez Rodericus Coerecius in Junie 2021 vir die verkoop van eiendom wat hy nie besit het nie opgelê het, ter syde gestel en vervang met direkte gevangenisstraf van veertien jaar.
Regter Deidre Susan Kusevitsky het die vonnis van 38 jaar tot 27 jaar verminder en gelas dat sommige daarvan same-lopend uitgedien kan word vir direkte gevangenisstraf van veertien jaar, terugwerkend tot 25 Junie 2021.
Die Oudtshoorn Streekhof het Coerecius 2 jaar tronkstraf opgelê deurdat hy hom as prokureur voorgedoen het, 10 jaar vir elk van klagtes twee en drie (albei kor-rupsie-aanklagte) wat gesamentlik uitgedien kan word, 10 jaar tronkstraf vir aanklagte vier en vyf (ook albei korrupsie-aanklagte) wat gesamentlik uitgedien kan word, 6 jaar tronkstraf vir aanklagtes ses en sewe (bedrog en geldwassery) en 10 jaar tronkstraf vir aanklag agt.
Regter Kusevitsky het die 2 jaar vonnis vir klagte een behou, die vonnis van 10 jaar tronkstraf vir klagtes twee en drie verminder tot 6 jaar en so ook die vonnis van 10 jaar tronkstraf vir klagtes vier en vyf.
Die 6 jaar tronkstraf vir klagte ses is so behou terwyl die 6 jaar vir klagte sewe verminder is tot 1 jaar. Die vonnis van 8 jaar tronkstraf vir klagte agt is tot 6 jaar verminder. Die regter het beslis dat die die vonnisse vir klagte 2 tot 6 samelopend uitgedien kan word en so ook die vonnisse vir klagtes 7 en 8.
Sy sê in haar uitspraak dat Coerecius se optrede berekenend en manipulerend was. Hy het jag gemaak op kwesbare lede van die gemeenskap, pensoenarisse wie se geld geoormerk was om hulself te onderhou in hul laaste jare, alles om sy eie hebsug te bevredig en sy slagoffers al daardie geld verloor het.
“Terwyl ’n ligter vonnis as wat die beskuldigde in die streekhof opgelê is hiermee gemagtig word, is ek van mening dat die vertroue wat die gemeenskap in howe het om oortreders wat hierdie soort misdade pleeg behoorlik te straf nie uit die oog verloor moet word nie.
“Die funksie van die hof is nie net om geregtigheid teenoor die benadeeldes te laat geskied nie maar ook om die gemeenskap se vertroue in die howe te herstel en verseker dat vonnisse wat opgelê word ook moet dien om voornemende oortreders af te skrik.
“Ek is dus van mening dat ’n gepaste vonnis vir die applikant veertien jaar direkte gevangenisstraf is,” het die regter gesê. (Deur Garnett Wicomb)