Niël Viljoen, wat die roofdier en veebestuur- moniteringsplase in 2008 begin het, het onlangs ’n verslag bekend gestel wat handel oor sy waarnemings oor vee- en roofdierbestuur die afgelope 15 jaar.
Die uitslae van sy navorsing op 27 monitorplase in ses provinsies waar met kleinvee geboer word, bewys dat die skade wat roofdiere aan kleinvee aanrig bestuur en beperk kan word.
Namate roofdiere suksesvol beheer is, het vee-verliese van 13,2% in 2008 tot 3,4% in 2022 afgeneem het, wat as ’n groot verbetering beskou kan word.
Die verslag dui aan hoe reënval, die aantal en tipe vee wat deur roofdiere geteiken word, die tipe roofdiere en die metodes wat gebruik word om hul getalle in toom te hou, ’n invloed op die boer se finansies het.
Die belangrikste bestuursmetodes sluit dodelike en nie-dodelike metodes in. Nie-dodelike metodes sluit mens- en diereherders in, asook vanghokke, halsbande wat die prooidier se keel beskerm en of ’n geraas maak, terwyl dodelike metodes roep-en-skiet, vanghokke met die doel om die probleemdier te elimineer en vangysters insluit.
Geen enkele metode werk oral nie, want die omstandighede op die plase verskil. Suksesvolle bestuur hang af van watter metode die beste op ’n spesifieke plaas werk.
Op die monitorplase is bevind dat dit meestal pasgebore lammers tot en met speenouderdom is wat deur jakkalse gevang word.
In die Oos-Kaap is dit meestal rooikatte wat die sondebokke is, terwyl jakkalse wat in troppe jag in KwaZulu-Natal vir die meeste veeverliese verantwoordelik is. Pasgebore lammers tot op ’n gewig van 35 kg maak 67% van alle veeverliese uit omdat hulle weerloos is en jakkalse en rooikatte se voorkeurprooi is.
Gespeende lammers (19%) is die tweede grootste teikengroep.
Dit is dus belangrik om intelligente veebestuur toe te pas en jakkalsgetalle op ’n verantwoordelike manier in toom te hou.
Tussen 2018 en 2021 was die gemiddelde vee-verliese 1131, terwyl altesaam 544 probleem roofdiere geëlimineer is. Dit verteenwoordig sowat 50% van die veeverliese.
Die toename in verliese in 2022 word toegeskryf aan die goeie reën wat die veld ontoeganklik gemaak het vir bestuursmetodes soos roep en skiet, vanghokke, en vangysters.
Kontak Niël Viljoen by 082 381 8227 of stuur ’n e-pos na nielviljoen@gmail.com. (Deur Tisha Steyn)
Roofdiere kan beheer word, wys verslag
Jakkalse bly maar ’n veeboer se grootste uitdaging, maar Niël Viljoen se navorsing oor 15 jaar het bewys dat vee- en roofdierbestuur suksesvol kan wees. Foto: Niël Viljoen