Sneeu op die Swartbergpas – mooi, maar ook gevaarlik

So het die Swartbergpas die naweek gelyk, met talle voertuie wat as gevolg van gladde toestande en dik sneeu op die pas vasgeval het. Foto verskaf

MET verskeie voertuie wat die naweek in die sneeu en ys op die Swartbergpas vasgeval het, is motoriste weer eens gewaarsku om nie die pas te gebruik wanneer kwaai sneeu daar val nie.

Volgens ’n persverklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit se rampbestuursafdeling wat Saterdag uitgereik is, is die pas in sulke omstandigede selfs vir 4X4-voertuie uiters gevaarlik.

“Agt voertuie het sedert gister in die sneeu vasgesit en moes weggesleep word,” lui die verklaring. “Motoriste gehoorsaam nie die tekens wat aandui dat die pas gesluit is nie, wat daartoe lei dat talle voertuie al vasgeval het.”

Die pas was teen gister (Woensdag) steeds ge­sluit vir verkeer.

Die waarnemende munisipale verkeershoof, Magdalene Phillips, het gister aangedui dat die jongste syfers aandui dat daar uiteindelik nege voer­tuie aan die Oudtshoorn-kant van die pas plus nog twee aan die Prins Albert-kant van die pas vasgeval het.

Roeland Gabriël, ’n toeroperateur wat vanweë sy kennis van die Swartbergpas en sneeutoestande ingeroep is om te help om van die voertuie uit die sneeu te bevry, het gesê mense moet besef die Swartbergpas is ’n uitdaging as iemand nie ervare is om in sulke omstandighede te bestuur nie, al het jy ’n 4X4-voertuig.

Gabriël sê hy het van jongs af in Europa geleer hoe om ’n voertuig in die sneeu te bestuur en dat ’n mens ook moet sorg dat mense warm bly in die koue toestande. Hy sê hy kon daarom talle mense oor die naweek bystaan om nie net hul voertuie veilig van die berg af te bring nie, maar ook vir hulle iets warm om te drink en iets om te eet aanbied om die koue op die berg die hoof te bied. (Deur Liesel le Roux)