Nigeriër gevonnis vir tik

’N NIGERIESE burger wat onwettig in Suid-Afrika is, is Donderdag (22 Julie) in die Oudtshoorn Streekhof aan die besit van tik en oortreding van die Immigrasiewet skuldig be­vind en gevonnis.

Njionye Onyinye (38) het ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat gesluit vir die besit van 9,3 gram tik en die feit dat hy die land sonder ’n permit binnegekom en aangebly het.

Sy regsverteenwoordiger, adv Be­nito Metembo, het die hof versoek om sy tyd in aanhouding, asook die feit dat hy verantwoordelikheid vir sy optrede neem, vir vonnisoplegging in aanmerking te neem.

Volgens die ooreenkoms is hy deur streeklanddros Daniel Boks ’n boete van R10 000 of drie jaar gevangenisstraf opgelê vir die besit van dwelms en ’n verdere vyf jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.

Vir die oortreding van die Immigrasiewet is hy gevonnis tot ’n boete van R500 of ses maande gevangenisstraf. (Deur Garnett Wicomb)